• Tuisblad
  • Sport
  • Junias, naellopers gereed vir hul grootste oomblik

Junias, naellopers gereed vir hul grootste oomblik

Die jeugdige Swakopmunder Junias Jonas streef om verder as enige vorige landgenoot by die Olimpiese Spele te vorder.
Tielman van Lill
Sportredaksie – Hoë verwagtinge word van die jeugdige bokser Junias Jonas gekoester wat môreoggend met sy eerste aanslag op die 2020 Olimpiese Spele in Tokio vorendag kom – hoewel hy 'n taktiese uitgeslape teenstander sal moet uitoorlê.

Sy opponent, Harry Garside van Australië, het reeds sy eerste geveg laas naweek agter die blad, waarin hy met vlieënde vaandels verby Papoea-Nieu-Guinee se John Ume gestorm het.

Elkeen van die vyf beoordelaars het nie gehuiwer om elk van die vyf rondes aan die Australiër toe te ken nie (5-0).

Met sy steekhou en voetwerk het Garside die afstand tussen hom en die veel korter, linkshandige PNG-bokser beheer en geensins toegelaat dat sy opponent die binnekant kon betree of betekenisvolle skade aanrig nie.

Hierteenoor het die Namibiër as een van die topdrie gerekende boksers 'n loslootjie vir gehad en raak eers môre in die ronde van 16 betrokke.

Die geskiedenis wys dat Namibië in Olimpiese amateurboks nog bitter min gevegte gewen het – wat nog te sê van iemand wat 'n semifinaal kon haal. Selfs latere wêreldkampioene soos Harry Simon, Paulus Ambunda en Julius Indongo, asook die dubbele Statebond-medaljewenner Jafet Uutoni, kon nie juis beduidende vordering maak nie.

Die 27-jarige Jonas is die heersende Statebondspele-kampioen ná sy goue medalje in Australië in 2018. Vier jaar tevore het hy in Glasgow ook op die voorgrond getree met 'n silwermedalje toe hy hom eers in die finaal, teen die gasheer se huidige wêreldkampioen Josh Taylor vasgeloop het.

Garside het drie jaar gelede by die Gouekus óók 'n Statebond-goud ingepalm, naamlik in die 60 kg-gewigsklas, teenoor Junias se triomf in die 64 kg-afdeling. Hierdie twee gewigsklasse is nou gekombineer en hoewel dit liggewig genoem word, is die afsnypunt die swaarder grens wat normaalweg as ligweltergewig bekend staan.

In die Australiese media is Garside tevore geprys vir die siening dat hy met vasberadenheid 'n voortdurende vooruitgang gemaak het in die bokssport waarin hy aanvanklik as amateur swaar geleef het.

Garside, wat bedags as 'n loodgieter werk, het klaarblyklik deur balletklasse sy voetwerk verbeter.

Jonas (tweede gekeur) is beslis nie die enigste prominente aanspraakmaker op die titel nie.

Die Fransman Sofiane Oumiha het by die Rio 2016 Spele met die silwermedalje weggestap en 'n jaar later die wêreldamateur­titel ingepalm – wat hom tans die topgekeurde man in Tokio maak.

Andy Cruz van Kuba (derde gekeur – wenner van die 2019 wêreldkampioenskap in Rusland) het ook laas naweek 'n loslootjie gehad, maar maak sy toetrede teen die Brit Luke McCormack, vir wie Jonas in 2018 naelskraap (3-2) in die semifinaal uitgeskakel het.



NAELLOOP-'TWEELING'

Soos vele van hul landgenote kan die tienerjariges Beatrice Masilingi en Christine Mboma beswaarlik wag om Maandag vir hul uitdunwedlope in die 200 meter vir vroue aan te tree (03:30–04:18 Namibiese tyd).

Hul afrigter Henk Botha het gister uit Tokio gesê: “Ek is meer as tevrede met die meisies se voorbereiding en peil. Ons moet in gedagte hou die ander atlete is almal gesoute mededingers op internasionale vlak en van hulle was al by meer as een Olimpiese Spele in aksie.

“Ons vat dit wedloop vir wedloop en hopelik haal ons Maandag die semifinale (van 12:25 Namibiese tyd), want meeste van die ander deelnemers is ongelooflik vinnig, met blitsige 200-tye die afgelope jaar agter hul name.

“Mense moet onthou Beatrice en Christine is nog baie jonk en net menslik, maar hulle verteenwoordig met trots die hele Namibië. Dis ongelooflik hoeveel bemoedigende bood­skappe ons van ondersteuners en mens tuis kry.

“Ons gaan ná hul deelname vir nog vyf dae in Tokio aanbly om die afsluitingseremonieby te woon. Die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee het aan Beatrice en Christine die eer toeken om die landsvlag tydens die afsluiting te dra.”

“Ná ons in Namibië aangekom het sal ons basies net vyf dae daar wees voordat na Nairobi vir die o.20-wêreldkampioenskap vertrek. Ek is van mening beide ons atlete sal daar in die finaal hardloop en medaljes is nie uitgesluit nie.”

Die 200 meter vir vroue het 'n sterbelaaide veld. Shaunae ­Miller-Uibo van die Bahamas, die vorige Olimpiese kampioen van Rio 2016, is uitstekend op dreef.

Jamaika spog opnuut met drie sterk medaljekandidate in Shelly-Ann Fraser-Pryce, Shericka Jackson en Elaine Thompson Herah. Na verwagting sal die eilanders se groot stryd teen die gedugte Amerikaanse trio Anavia Battle, Jenna Prandini en Gabrielle Thomas gevoer word.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer