Julius en Were proe aan die Engelse weivelde

Dit bly sy droom om vir Namibië krieket te speel en hy hoop om sy spel tydens die Engelse seisoen te verfyn, sê Joshuan Julius.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die 23-jarige Joshuan Julius wat vir CCD Tigers in Windhoek speel, het onlangs na Engeland vertrek waar hy vir die volgende krieketseisoen gaan speel.

Julius het reeds op 5 April sy eerste treë by Stretford-krieketklub in Manchester gegee, waar hy oor twee weke in sy eerste 50-beurtwedstryd behoort te speel.

Die voormalige Windhoek Gimmie was as 18-jarige vir Namibië se o.19-span gekies wat in Desember 2014 by die Khaya Majola-krieketweek in Pretoria in aksie was. Hy is in vyf wedstryde as een van die topkolwers gebruik.

Vroeër dieselfde jaar is Julius ook as kolwer by die Namibiese o.19-span ingesluit wat aan die Wêreldbeker vir onder 19's in Abu Dhabi, Dubai en Sharjah in die Verenigde Arabiese Emirate deelgeneem het. Hy het in drie wedstryde teen Zimbabwe, Kanada en Skotland gespeel met Gerhard Erasmus (kaptein), JJ Smit, Zane Green en JP Kotze as van die bekendste spanmaats.

Hy kon egter sedertdien as senior speler nie weer 'n oproep van die Namibiese keurders kry nie. Veral in laas jaar se Krieket Namibië T20-reeks vir premierliga-klubs het Julius as lopiemaker na vore getree.

Spelers, ondersteuners asook Julius het gereken dat hy vir die Namibiese senior span gekies sou word wat kort daarna in Botswana aan die Internasionale Krieketraad se T20 Wêreldbeker kwalifiserende streekstoernooi teen die gasheerspan asook Lesotho, Malawi, Mosambiek, St. Helena en Swaziland sou deelneem.

Tot die ontnugtering van Julius en ander waarnemers is hy nie vir die toer gekies nie, maar wel spelers wat nie eens 'n speelkans gekry het nie. Die Eagles was onoorwonne totdat hulle op die laaste speeldag teen Bo­tswana verloor het.

Julius het nie gaan lê nie en het intussen 'n kontrak met Stretford beklink waar hy vir die volgende vyf maande hul kolfbeurt in 50-beurt eendagwedstryde sal open.

“Ek het vroeër vandeesmaand hier by die ouens ingeval. Die plaaslike seisoen begin eers oor twee weke. Ons het vanoggend weer 'n lekker stywe oefensessie gehad en ek sien uit daarna om die kolfbeurt vir Stretford te open.

“Ek moet nog met die klub onderhandel of ek my kontrak in 'n latere stadium kan hernu. Ek moet sê die Engelse is heel gawe mense en behalwe dat hulle daarvan hou om warm bier te drink, is hulle baie hulpvaardig en plat op die aarde mense. Dit is heel lekker hier en ek geniet dit baie saam met een Suid-Afrikaner wat ook by Stretford speel.

“Ek gaan die volgende vyf maande behoorlik op my kolfwerk konsentreer en met die hulp van die afrigters hier my tegniek en konsentrasie verbeter. Ek glo die isolasie hier waar ek my elke dag net op krieket sal toespits gaan help dat ek as 'n veel beter kolwer na Namibië kan terugkeer. Dit bly 'n droom van my om vir Namibië te kan speel.

“Ek verstaan Rene Were wat saam met my by CCD Tigers speel, is ook na Engeland op pad. Ek weet ongelukkig nie by watter klub hy is nie,” het Julius vertel.

Die koerant het intussen verneem dat Were (18), 'n gebore Keniaanse burger en oudleerder van St. Paul's Kollege, hom steeds in Windhoek bevind in afwagting op die goedkeuring van sy visum.

Were het verlede jaar Januarie met die o.19 Wêreldbeker in Nieu-Seeland vir sy geboorteland in vyf wedstryde diens gedoen – insluitend 'n nederlaag met agt paaltjies in 'n uitspeelwedstryd teen Namibië waarin kaptein Lo-han Louwrens met 'n honderdtal uitgeblink het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer