Julian is Leeus se Maanhaar van die jaar

Rugby
Andrew Poolman
Christo Buchner



Al gaan hy moontlik nooit weer op 'n rugbyveld gesien word nie, het Julian ­Redelinghuys Woensdag­aand die hardste gebrul van al die Leeus op hul “Oscar”-geleentheid in Brakpan.

Dié Springbok-vaskopstut wie se loopbaan waarskynlik kortgeknip is deur 'n nekbesering in verlede jaar se Curriebeker-halfeindstryd in Bloemfontein teen die Cheetahs, is op 'n luisterryke geleentheid aangewys as die Leeus se speler van die jaar.

Redelinghuys is sedert sy besering deur medici aanbeveel om dit nie weer op 'n rugbyveld te waag nie.

Dié voorryman wat ook verlede seisoen in ses toetse vir die Springbokke gespeel het, het hom bewys as die sterkman van dié span en het met sy sterk skrumwerk en puik spel in die vastelos 'n leeue-aandeel in hul sukses gehad. Dit was 'n superjaar vir die Leeus waarin hulle die Superrugby-eindstryd gehaal het.

“Daar is net een Julian Redelinghuys en ons gaan hom gewis baie mis hierdie seisoen. Enige span, maak nie saak wie dit is nie, sal 'n speler van Julian se gehalte mis wanneer hy nie daar is nie,” het die afrigter, Johan Ackermann, van hierdie gemoedelike en innemende speler gesê.

Redelinghuys het sy mede-Springbokke Warren Whiteley en Elton Jantjies uitgestof om die groot prys as speler van die jaar op te raap.

Dit is inderdaad 'n uit­sonderlike prestasie in 'n uitsonderlike seisoen vir die Leeus.

Whiteley, die kaptein en agtsteman, is as Superrugby-speler van die seisoen aangewys, terwyl 'n opwindende jong senter van Benoni, Jacques Nel, as die Curriebeker-speler van die jaar aangewys is.

In 'n toekenning wat altyd baie hoog aangeslaan word, is die nuwe Bok-haker Malcolm Marx as die spelers se speler van die jaar gekies, met die sterk senter Rohan Janse van Rensburg wat deur die ondersteuners as hul gunsteling gekies is.

Die Springbok-losskakel Jantjies, wat 'n uitstaande Superrugby-seisoen beleef het, is as die Super-agterspeler van die Jaar verkies, terwyl die slot Franco Mostert as die voorspeler van die jaar in dié kompetisie aangewys is.

Wat die Curriebeker-reeks betref, was die haastige vleuel Anthony Volmink die voorste agterspeler, met die veelsydige Ruan Ackermann, wat slot, flank en agtsteman gespeel het, die voorspeler wat met die toekenning weggestap het.



Die wennerslys is:

Speler van die jaar: Julian Redelinghuys.

CURRIEBEKER: Voorspeler: Ruan Ackermann. Agterspeler: Anthony Volmink. Speler van die seisoen: Jacques Nel.

SUPERRUGBY: Voorspeler: Franco Mostert. Agterspeler: Elton Jantjies. Speler van die seisoen: Warren Whiteley. Ondersteuners se speler van die jaar: Rohan Janse van Rensburg. Spelers se speler van die jaar: Malcolm Marx.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer