Joost: Vegter tot die bitter einde
Joost: Vegter tot die bitter einde

Joost: Vegter tot die bitter einde

Rugby
Andrew Poolman
'n Yster, vegter, een van die beste skrumskakels in die Springbok-geskiedenis, maar ook 'n stouterd en grapjas, is hoe Joost van der Westhuizen se spanmaats in die seëvierende Bok-span van 1995 hom onthou.

Van der Westhuizen (45) het gister sy dapper stryd teen motorneuronsiekte verloor.

Francois Pienaar, sy kaptein in die span wat die Wêreldbeker omhoog gehou het, het hom as 'n “buitengewone speler” bestempel.

“Hy's 'n yster vir wie ons diep gaan mis. Dit was vir my 'n wonderlike voorreg om saam met hom te kon speel en sy kaptein te kon wees. Hy was in alle opsigte 'n vegter en het nooit opgegee nie.”

Blou Bul, Wêreldbeker-wenner, Bok-kaptein – Van der Westhuizen het ondersteuners al in sy jong dae gaande gehad en het in 1993 Springbok geword as lid van die toerspan in Australië.

Maar hy het eers die volgende jaar die rugbywêreld behoorlik aan sy voete gehad toe hy twee drieë vir die Springbokke teen Skotland op Murrayfield gedruk het.

Dié drieë, en Van der Westhuizen se vertoning op die Bok-toer in Europa, het gewys dat hy inderdaad 'n spesiale speler is. Hy was dodelik as hy eers na 'n gaping begin soek het.

Dié vertoning het vir die eerste keer gewys dat die Springbokke dalk 'n span was waarmee rekening gehou sou moes word in 1995 se Wêreldbeker-toernooi.

Van der Westhuizen was een van die Bokke se sterre in dié toernooi. Hy het in die finaal met 'n gebreekte ribbebeen gespeel, maar dit het hom nie gekeer om onder die All Blacks se vreesaanjaende makro-vleuel Jonah Lomu in te seil nie.

En dit was hy wat die bal na Joel Stransky aangegee het vir die skepskop wat die eindstryd in bykomende tyd met 15-12 in Suid-Afrika se guns beklink het.

Drie jaar later was Van der Westhuizen weer 'n sleutelspeler in die eerste Springbok-span wat 'n Drienasies-reeks gewen het.Hy het die Bokke se enigste drie in die naelskraapse oorwinning van 14-13 oor Australië in Perth gedruk.

En teen die All Blacks in Durban was hy ook een van die driedrukkers toe die Bokke 'n agterstand van 5-23 uitgewis het om met 24-23 te wen.

Die Bokke kon die Wêreldbeker nie in 1999 suksesvol verdedig nie. Van der Westhuizen is kort voor dié toernooi as kaptein aangewys toe Gary Teichmann op verrassende wyse gepos is.

Van der Westhuizen het in sy 89 toetse 38 drieë gedruk – 'n rekord vir die Springbokke wat eers in 2012 deur Bryan Habana verbeter is.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer