Jongmanne ontwikkel Mariental
Jongmanne ontwikkel Mariental

Jongmanne ontwikkel Mariental

Tanja Bause
Tanja Bause - Die nuwe gebou op Mariental, ontwikkel en gebou deur Henmar Construction, is kant en klaar.

Die huurders Bank Windhoek, Welwitschia-versekeringsmakelaars en Sanlam Namibië het ingetrek.

Henning van der Merwe en Marius du Plessis is die manne agter Henmar Construction.

“’n Jaar gelede het ons die eerste deel van die ontwikkeling voltooi. Big Daddy en OK Meubels is in daardie gedeelte. Fase twee, wat nou klaar is, beslaan 1 000 vierkante meter en het sowat N$11 miljoen gekos om te ontwikkel,” het Du Plessis gesê.

Dit is nie hul grootste projek nie. Sowat vyf jaar gelede het hulle die gebou waarin Shoprite geleë is teen N$22 miljoen ontwikkel.

“Op die oomblik is ons besig om 12 huise in ‘n kompleks op Mariental te bou. Ses van hulle is al klaar gebou en verkoop. Daar is tans baie ontwikkeling wat op die dorp plaasvind.”

Du Plessis is nie net ’n ontwikkelaar nie, maar ook ’n voltydse boer by die Hardapskema.

“Nou met die droogte plant ons maar voer aan, maar gewoonlik plant ons lusern, mielies, koring en so aan.”

Van der Merwe het ná skool argitektuur gaan studeer.

“My pa, Jan van der Merwe, het die Mark-winkel op die dorp besit en hy was as oom Jan Mark bekend. Hy het die Mark aan Shoprite verhuur en toe die winkel vergroot moes word, het Henmar Construction die werk gekry.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer