Jonges swaai appels in Grysblok
Jonges swaai appels in Grysblok

Jonges swaai appels in Grysblok

Amateurboks
NAMPA
Die Khomas Boksvereniging (KBV) het die afgelope naweek sy jaarlikse streekkampioenskap by die After School Centre in Katutura aangebied waaraan agt klubs en boksakademies deelgeneem het.

Imms Moses, skakelbeampte van die KBV, was beïndruk met die akademies se harde werk om dié kompetisie 'n sukses te maak.

Moses het ná die toernooi aan Nampa gesê die onderskeie spanne was besonder goed voorbereid, wat 'n positiewe teken vir die Khomasstreek is.

“Die gehalte van boks wat by vanjaar se kampioenskap ten toon gestel was, is 'n teken van hoe goed die outjies geslyp is. Dit spoor ons as organiseerders aan om die kampioenskap groter en beter te maak. Ons gaan 'n lekker span saamstel om later vanjaar aan die nasionale kampioenskap deel te neem. Dit is belangrik dat ons by die KBV amateurboksers ontwikkel en seker maak dat hulle gevegte kry,” het Moses vertel.

Warrior Promotions is as die algehele wenspan aangewys nadat een van sy vegters as beste bokser aangewys is, die beste afrigter opgelewer en boonop die kampioenskapstrofee ingepalm het.

Die toernooi is met die hulp van die MTC Nestor Sunshine Boks­akademie, Salute Boks­akademie, Mistake Gariseb Boksakademie en OTB Sport gereël.

Die spanne wat deelgeneem het, is van Unam, NUST, MTC Sunshine, Salute, 21st Brigade, Mistake Gariseb boks­akademie, Warriors en After School Centre.

Kort voor die toernooi het die Khomas-vereniging 'n waardevolle borgskap ontvang toe die Duitse ambassade vir bokstoerusting ter waarde van N$80 000 betaal het. Die slaansakke en bokshandskoene sal onder al die klubs in die streek verdeel word na gelang van 'n vroeër bepaling van elkeen se behoefte. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer