Jonges keil mekaar behoorlik op

Verskeie wedstryde se wenners is eers in die derde stel met 'n supervalbylpot beslis.
Toeskouers het hoogs aanskoulike tennis gesien in die meeste ouderdomsgroepe toe die Namibiese Tennisvereniging (NTA) die naweek sy eerste junior toernooi sedert die verslapping van die nasionale hokmaatreëls teen die coronavirus aangebied het.

Vier bane in die hoofstad is oor twee speeldae hiervoor ingespan vanweë ’n gesonde getal inskrywings (altesaam 90) in bykans elke ouderdomsgroep.

In die o.16 seunsafdeling het Daniel Jauss sterk teenstand gekry voordat hy sy semifinaal teen die 14-jarige Dian Calitz met 7-6, 7-6 oorleef het.

Jauss het uiteindelik vir George Louw in ’n ewe moeilike eindstryd geklop wat eers in die derde supervalbylstryd met 11-9 beslis is. Uiteindelik was daar tussen die finaliste net twee punte verskil.

Daneel van der Walt het die bronsfinaal teen die uitgeputte Calitz met 6-2, 6-0 oorheers.

• Lorenzo Danster het die o.18 seunstitel ingepalm deur vir Christian van der Merwe met 6-4,6-1 te klop.

• Oliver Leicher se oorwinning teen Adam Diggle in die seuns o.14-finaal was ’n verrassing.

Dit was deurgaans ’n naelbytstryd wat ook met ’n supervalbylpot in die derde stel beslis is. Oliver het met 13-11 geseëvier.

Stephan Koen het verras deur Ruben Nel in die kwarteindronde uit te skakel met 6-7, 7-5 en 10-5. Juan Kuhn het vir Stephan gewen met 6-0, 6-4 om die bronsmedalje te verower.

• Die seuns o.12 het twee goeie semifinale gehad met Samuel Nel wat teen Israel Dowie te staan gekom het en Lian Kuhn teen Ruben Yssel. In ’n baie goeie eindstryd het Dowie met 6-2, 6-3 teen Yssel die oorhand gekry.

• Die seuns onder 10 is gemaklik gewen deur Johan Theron wat Luan Brand in die eindstryd met 8-5 geklop het. Divan Engelbrecht het aanvanklik eerste in sy groep geëindig, maar is in die semis met 8-7 deur Brand uitgeskakel. Samuel Lagvardi het uiteindelik die bronsmedalje verower deur Engelbrecht met 8-4 te klop.

MEISIES

Taimi Nashiku, ’n ambisieuse speler wat op Potchefstroom in Suid-Afrika skoolgaan en tennis speel, het die meisies o.18-titel verseker hoewel Lisa Yssel haar in drie stelle sterk teëgesit het.

Die telling van 6-2, 3-6, 10-6 getuig daarvan dat Lisa nooit moed opgegee het nie, maar tot die einde bly veg het en die tweede stel welverdiend gewen het.

Nashiku bevind haar tans in die 1452ste posisie op die junior wêreldranglys, maar koester ’n sterk strewe om as professionele speler deur te breek.

• In die meisies o.16 afdeling was die talentvolle veertienjarige Raica Coelho se oorheersing geen verrassing nie. Sy het gemaklik met al die opponente afgereken en het in haar vier wedstryde net een pot afgestaan, naamlik teen Larushka Kruger wat tweede geëindig het).

• By die o.14’s het Dominique Theron in die semifinaal teen Odycia Karaerua gewen (6-1, 6-4), waarna sy ook die finale hekkie teen Sytisha Goagoses oorkom het (7-5, 6-3).

• In die finaal vir meisies o.12 het Joanivia Bezuidenhout te staan gekom teen Hayley Kidd wat uiteindelik met 6-3, 6-4 gewen het. Die bronsmedalje is gewen deur Hayley se jonger suster, Lila Kidd, wat teen Hiturepi Kahulke 6-0, 6-3 oorheers het.

• Die meisies o.10 is gewen deur Emma Brinkman wat haar heel eerste toernooi gespeel het. Sy het met Liha Tromp afgereken 8-4.

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer