Jonges kan algaande beter speel

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Die herstel van wedstrydskerpheid ná die stilte van maandelange inperkings is die hoofdoel van ’n vriendskaplike reeks wedstryde vandeesmaand vir jong krieketspelers.

Africa Personnel Services (APS) se Game Time-reeks het laas naweek afgeskop en hervat vandag en môre. Dit word trouens elke naweek in Junie op dieselfde venue gespeel, naamlik Windhoek Hoërskool se Vegkop-stadion.

Vrydagmiddae word ’n wedstryd vir spelers van 11, 12 en 13 jaar oud oor 30 boulbeurte per span gespeel.

Saterdagoggende begin met twee tjokkerwedstryde wat om 08:00 en 09:15 begin. Die formaat is ses-aan-’n-kant en die wedstryd is oop vir spelers vanaf ses tot agt jaar.

Die hoofdis op Saterdae is die 40-boulbeurtwedstryd vir spelers van 14, 15 en 16 jaar oud, wat omstreeks 10:30 ’n aanvang neem.

In al die ouderdomsgroepe is voornemende spelers welkom om aan te meld en moontlik vir speelkans in aanmerking te kom.

Omdat die spanne dus weekliks verander, word enige individuele vertonings of mislukkings nie as van geweldige belang geskat nie. Die hoofsaak is eerder om vir krieketspelers die geleentheid vir speelkans te skep en sodoende hul ontwikkeling in die sport aan te help.

Laas Saterdag het “Span A” eerste gekolf en is vir 215 lopies uitgboul (27.4 boulbeurte). Die groot uitblinker was Gerhard Janse van Rensburg met 90 van 61 balle (5x4 7x6), met mindere steun van Dylan Leicher (24) en Heinrich Geldenhuys (27).

Van Rensburg is uiteindelik deur Henry van Wyk (3/32 in 4.4 boulbeurte) been-voor betrap.

“Span B” is binne ’n japtrap (13 boulbeurte) vir net 44 lopies uitgeboul. Net Christo Bronkhorst (19) kon dubbelsyfers haal teen die aanslag van Dirk Theunissen (3/6 in 4 bb), Christiaan Delport (2/13 in 4 bb) en hul boulmaats.

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer