Jong Jordaan vat SA goud in nuwe rekord
Boogskiet
Tielman van Lill
Die 17-jarige Paul Jordaan het vroeër vandeesmaand ’n goue medalje by die 70ste Suid-Afrikaanse nasionale boogskietkampioenskap in Gauteng verwerf.
Dié kampioenskap van die Suid-Afrikaanse Nasionale Boogskietvereniging was van 2 tot 4 April by die Markspark-sportklub in Emmerentia, Johannesburg, gehou.
Vir Jordaan, wat eers aan die einde van 2019 aan boogskiet begin deelneem het, was dit sy eerste kompetisie buite Namibië. Hy het in die saamgesteldeboog-afdeling pyle getrek, nadat hy reeds verlede maand sy klas gewys het toe hy die Namibiese junior rekord twee keer verbeter en tot 685 uit 720 opgestoot het.
Op 3 April in Johannesburg het hy tydens die kwalifiseringsrondes met 688 punte opnuut sy Namibiese rekord oortref. Die volgende dag in die eindstryd het hy met 139 (uit 150) laat waai om goud teen Guillaume Pelser van die Vrystaat te buit.
Ná die derde ronde in die eindstryd was hy met twee punte agter Pelser, maar hy tem sy vlinders en klop sy teenstander met 139 teen 138 om naelskraaps dié trotse titel op te raap.
Jordaan sê boogskiet het van ’n blote belangstelling in ’n passie verander.
“Ek het middel Junie 2019 my eerste jagboog tweedehands gekoop, want my vriend het een vir sy verjaarsdag gekry en ons wou saam skiet en jag.
“Ek het eers net met my gewone jagboog geskiet. Ek het op YouTube gesien hoe om ’n boog te gebruik en navorsing op die internet begin doen oor hoe om te skiet.
“In Oktober laas jaar het ek by die SKW-boogskietklub aangesluit om hul skietbaan te gebruik, omdat die afstand by ons huis te beperk was.
“SKW het toe ’n binnenshuise kompetisie gehou en ek het gaan deelneem met my jagboog net om te sien wat gaan vir wat. Ek het toe ’n tweede plek gekry teen ander ouens wat met die regte toerusting deelneem. Daar het my belangstelling vlamgevat om te kompeteer.
“Ná ’n paar kompetisies waar ek goed gevaar het, het ek toe ’n gebruikte saamgestelde jagboog gekoop en dit met ’n kompetisie-teleskoop en balanseerders toegerus. Toe ek eers die kunsies van teikenskiet beter leer ken het, het ek baie goed begin vaar.
“Ek het my daarop toegespits om aan meer kompetiesies deel te neem en net meer en meer geoefen.
“My deelname in Johannesburg was ’n goeie ervaring en ek het baie geleer. Ongelukkig was daar weens Covid-19 nie so baie deelnemers vanjaar nie, maar die kompetisie was nogtans taai en ek het die finaal met een punt gewen. Ek was die enigste ou met ’n jagboog daar, want almal het regte kompetisieboë gehad.
“Die uitslag in Johannesburg is vir my ’n goeie aanduiding van wat ek nog wil bereik en ek sal graag internasionaal wil kompeteer.
“My mikpunt is om só te verbeter dat ek aan die wêreldkampioenskap in die saamgestelde boogafdeling kan deelneem. Ek kan dalk later in terugbuigboogbyeenkomste begin skiet, maar dis nie nou deel van my planne nie. Ek wil eerder in die saamgestelde boogdissipline spesialiseer voor ek my belangstelling uitbrei.
“Ek moet erken my plan was nooit om kompeterend aan boogskiet deel te neem nie; ek wou net jag. Maar toe ek sien ek vaar goed, het ek besluit om meer te leer en voor ek my kom kry, was die sport ’n passie.
“Ek moet die SKW-boogskietklub vir hul hulp en ondersteuning bedank, asook my pa, Paul Jordaan. Nico en Thia Weck van Phoenix-boerdery het my met my uitgawes gehelp, asook Francois Marais van Your Butt Archery Supplies. Sonder hulle sou ek nie kon deelneem nie,” het Jordaan aan Republikein gesê.
Jordaan, wat in enige taal maar nog ’n groentjie op die boogskiettoneel is, se prestasie is merkwaardig en ’n getuienis van sy uitsonderlike talent. ’n Blink toekoms wink op hom in die boogskietwêreld.
TEGNIESE REËLS
Tydens kompetisies kry deelnemers die geleentheid in die kwalifiseringsronde om met 72 pyle die hoogste moontlike telling uit 720 punte aan te teken. Elke pyl kan hoogstens tien punte vir ’n skutter verdien.
Ná die kwalifiseringsrondes word deelnemers volgens hul tellings in ’n rangorde geplaas. In die uitdunne durf die skutters mekaar twee-twee aan en skakel mekaar uit tot net twee vir die finaal oorbly. In die finaal het skutters net 15 pyle om die teiken te jaag (maksimum 150 punte).
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie