Jong ingenieur is reg om Robot Federer aan te vat
Jong ingenieur is reg om Robot Federer aan te vat

Jong ingenieur is reg om Robot Federer aan te vat

’n Draadkarretjie was die begin van groot drome vir ’n Suid-Afrikaner om eendag goed te bou wat self beweeg.
Elvira Wood – Hy wou bitter graag ’n afstandbeheerde Hummertjie hê toe hy ’n klein seuntjie was, maar dit was Tsepiso Taole nie beskore nie.

Maar dit sou dié knaap nie onderkry nie. ’n Hummer wou hy hê en hy bou toe een uit draad. Hy het hom selfs probeer motoriseer.

Dié karretjie was die begin van groot drome om eendag goed te bou wat self beweeg en mense in hul daaglikse lewe kan help.

Taole se droom het aan die begin van 2019 stukrag gekry toe hy as derdejaarstudent in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) die vak EMK310 begin neem en meer oor mikroverwerkers geleer het.

As deel van dié vak moet die studente ’n mikrobeheerdergebaseerde outonome robotiese voertuig(ie), oftewel ’n MORV, bou.

Nie net moet die motortjie sonder enige regstreekse beheer ’n groen lyn op ’n baan kan volg nie, hy moet teen soortgelyke motortjies resies jaag op die universiteit se jaarlikse resiesdag.

“Dit was ’n groot uitdaging,” sê Taole.

Taole sê hy was sommer van die begin af die leier van sy groep en het gereël dat hy, Tumelo Mofokeng, Lebohang Ndungane en Lesedi Thankane mekaar elke Vrydag op kampus ontmoet om die projek te bespreek.

“Elkeen van ons het ’n spesifieke taak gehad, van die ontwerp en bou van die voertuigie, tot die administrasie verbonde aan die projek,” vertel hy.

Met dié dat Taole by sy oom in Benoni woon en elke dag met die trein kampus toe ry, was dit nie altyd maklik om dié vergaderings by te woon nie.

Maar dié toewyding maak prof. Tania Hanekom, die skepper van dié resiesdag wat sedert 2012 elke jaar op die kampus gehou word, baie trots op Taole en sy spanmaats.

“Die manier waarop hierdie groep die projek bestuur het, is presies wat ons hoop studente sal doen,” sê sy.

Op die vraag hoe dinge op resiesdag, wat op 27 Mei gehou is, afgeloop het, word Taole stil.

“Ongelukkig het ons karretjie halfpad gaan staan. Daar was ’n draadjie los,” sug hy.

Hanekom val hom vinnig in die rede.

“Dit was een draadjie. Julle het ’n uitstekende karretjie gebou en julle het die regte proses gevolg. Wie weet, dalk kan jy eendag vir Robot Federer takel,” sê sy.

Taole se oë blink met nuwe vuur.

“Prof, wag en kyk, Robot Federer se dae is getel. Ek gaan sy rekord nog vernietig!”

“Robot Federer” is die MORV wat die baanrekord van 8,9 sekondes hou en deur ’n groep honneursstudente in 2018 gebou is.

Petri Oosthuizen se MORV wat in 2017 deelgeneem het, hou tans die baanrekord vir derdejaarstudente van 11,7 sekondes.

Hanekom sê Taole en sy karretjie wys daar is baie hoop vir Suid-Afrika se jeug.

Hul ywer en toewyding wys daar is ’n goeie toekoms vir ingenieurswese in die land. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer