Joernalis is 'bedwelm, gemartel, onthoof'

Teen die tyd dat Turkse ondersoe­kers toegang tot die konsulaat verkry het, is 'n vars laag verf 'oral' in die gebou aangebring, sê die amptenaar.
Te midde van gesprekke gister tussen Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, en pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye oor die verdwene Saoedi-joernalis Jamal Khashoggi, word beweer dat hy dwelmmiddels ingegee, gemartel en toe onthoof is, berig CNN.

SkyNews het Woensdagaand berig daar is moontlik van sterk chemikalieë gebruik gemaak om van Khashoggi se liggaam ontslae te raak.

'n Saoedi-sending wat uitgeloop het op die dood van Kha­shoggi in Istanboel, Turkye, is georganiseer deur 'n hoë offisier van Saoedi-Arabië se hoofintelligensiediens, die algemene intelligensiepresidensie, het drie bronne met inligting oor die saak aan CNN gesê.

Saoedi-Arabië het dié aantygings as “ongegrond” afgemaak, berig die BBC.

Een van die bronne sê die of­fisier is na aan die binnekring van kroonprins Mohammed bin Salman.

Volgens IOL was Salah Muhammed al-Tubaigy, 'n luitenant-kolonel in die forensiese departement, deel van die Saoedi-span van 15.

Dit is nie seker of die kroonprins die marteling, ontvoering of moord op Khashoggi goedgekeur het nie. Verskeie amptenare met wie CNN gepraat het, sê die sending kon nie gebeur het sonder die medewete van die 33-jarige kroonprins nie.

IOL berig die Turkse pro-regeringsblad Yeni Safak het gister berig hy het opnames van die voorval gehoor.

Khashoggi, 'n rubriek­skrywer van The Washington Post, se vingers is glo tydens die marteling afgesny.

Yeni Safak berig volgens die BBC dat die Saoedi-konsul op die opname gehoor kan word waar hy sê: “Gaan doen dit buite. Julle gaan my in die moeilikheid laat beland.”



AMPTELIKE ­DOKUMENTE

Khashoggi het verdwyn minute nadat hy op 2 Oktober die konsulaat binnegegaan het om amp­telike dokumente te kry vir sy huwelik met Hatice Cengiz, sy Turkse verloofde.

'n Turkse amptenaar het Dinsdag aan CNN gesê Khashoggi se lyk is in stukke gesny in Mohammad al-Otaibi, Saoedi-konsul-generaal, se kantoor terwyl hy self ook teen­woordig was.

Dié inligting, wat vroeër in die ondersoek eerste aan The New York Times bekend gemaak is, het aan die lig gekom toe Turkse amptenare die konsulaat Maandagnag nege uur lank gefynkam het.

Die amptenaar wou nie antwoord op die vraag hoe van die lyk ontslae geraak is nie.

Teen die tyd dat Turkse ondersoekers toegang tot die konsulaat verkry het, is 'n vars laag verf “oral” in die gebou aangebring, sê die amptenaar.

Volgens The Guardian het Al-Tubaigy oorfone opgesit en na musiek geluister terwyl hy die ledemate van die lyk verwyder het en hy het mense in die kantoor glo aangemoedig om dieselfde te doen.



OPGESNY

Volgens Middle East Eye is Khashoggi uit Al-Otaibi se kantoor na die een langsaan gesleep en op die tafel gesit en opgesny. Aanvanklik het hy glo nog geleef.

Ondersoekers glo die oorskot is daarna na die konsul-generaal se huis daar naby gebring waar daarvan ontslae geraak is, berig The Guardian.

Die verdagtes het regstreekse bande met die Saoedi-establishment.

Pres. Donald Trump van die VSA het vroëer aangevoer “onafhanklike moordenaars” het Khashoggi doodgemaak.

Die konsul-generaal het Turkye op 'n handelsvlug na Riaad verlaat ure voordat sy huis deel van die ondersoek geword het, berig The Guardian.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A