Job wys sy ware kleure
Job wys sy ware kleure

Job wys sy ware kleure

Mandy Rittmann
WILLEM DE WET SKRYF:

My flop Job, is dit waarmee jy nou besig is waaragtag die beste wat jy as burgemeester vir jou sukkelende stad en sy mense kan doen?

Terwyl die kerk besig is om die gate in die paaie te herstel en jou raadslede miljoene aan uitstaande skuld laat oploop, het jy niks beters om te doen as om straatname te verander en standbeelde af te breek nie?

Al breek jy al die standbeelde wat al ooit in die geskiedenis iets met die witmens te doene gehad af, gaan dit niks aan die saligheid en welstand van jou stad en sy mense doen nie. Kry jou prioriteite reg en doen iets wat 'n verskil maak en vooruitgang en werkskepping bevorder.

Om 'n standbeeld af te breek, is 'n oppervlakkige poging om jou eie onbeholpenheid te probeer verbloem deur op 'n ou, afgesaagde, seer senuwee te druk en sodoende die aandag te probeer aftrek van jou onvermoë om 'n tasbare verskil aan mense wat op jou staatmaak se welstand te maak.

Ek is seker die mense wat hul kruisie agter jou naam getrek het, verwag meer van jou as om net op die trein van ou koloniale verwyte te klim en niks anders te doen as om op almal se gevoel te speel soos jou voorgangers nie. Selfs ek, wat nie vir jou gestem het nie, het nogal van sekere van die beloftes wat jy vooraf gemaak het gehou en ek het nogal uitgesien daarna dat daar 'n nuwe briesie oor die dorp sal waai, maar ek sien jy gaan ook maar net nog 'n politieke geraasmaker wees wat niks gaan doen wat jou 'n tweede termyn sal laat verdien nie.

Daar is soveel wat jy kan doen om die lewens van alle Windhoekers te verbeter, maar nee, jy kies maar soos al die ander voor jou om liewer die geskiedenis te probeer uitwis en die dorp se geld en tyd daarmee te mors, eerder as om iets nuuts en innoverend staan te maak wat as 'n monument vir jou kan bly staan.

Maar soos die spreekwoord lui, leë blikke maak die meeste geraas.

Groete van standbeeld tot straatnaam.

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer