Jeep wil nou ook bakkie bou
Jeep wil nou ook bakkie bou

Jeep wil nou ook bakkie bou

Dis nie net Mercedes en Renault – vreemdelinge tot nou in dié segment – wat ’n skalkse oog na die bakkiemark gooi nie. Jeep is self van plan om ’n bakkie op die mark te plaas.

Die groep het verlede jaar reeds in hierdie rigting geskimp, maar nou raak die gerugte van ’n bakkie geskoei op die onderstel van die Wrangler 4x4 al hoe sterker.

In ’n onlangse plasing van ’n Amerikaanse internetgespreksgroep, JL Wrangler, is selfs ’n rekenaarskets gewys van hoe so ’n nuwe Jeep-bakkie mag lyk. Dit is nie duidelik waar die forum hul sketse vandaan gekry het nie. Maar sou Jeep wel voortgaan met die projek, mag dit wel vrugte vir die groep afwerp, reken ons.

Die afgelope dekade het die bakkiemark wêreldwyd in volume en winsgewendheid toegeneem. Volkswagen was eerste van die nietradisionele vervaardigers in dié segment wat die ontluikende waarde raakgesien het.

Tradisioneel word die bakkiemark deur die Japannese reuse Nissan, Isuzu en Toyota oorheers terwyl Ford ook nog altyd ’n sterk speler met verskeie groottes bakkies was. Volkswagen het amper tien jaar gelede sy Amarok na die mark gebring, ’n groot bakkie wat meer op die leefstylmark gerig is as ’n gewone werkesel. Dit was betreklik suksesvol vir hom.

Sedertdien het nog groepe wat nie werklik om hul bakkieprodukte bekend was nie, tot die segment toegetree – of het planne om binnekort ’n produk bekend te stel. Fiat het met Mitsubishi saamgespan om sy Fullback na die mark te bring (basies dieselfde voertuig, net met klein kosmetiese veranderings). En dan het Renault en Mercedes met Nissan saamgewerk om onderskeidelik die Alaskan en X-klas te ontwerp. Laasgenoemde twee bakkies sal egter net ’n onderstel met die Japannese bakkie deel. Enjins en ratkaste, sowel as sommige bakpanele en selfs veringstelsels, kan in wisselende mate self deur die Europese vervaardiger in sy bakkie geplaas word.

Dit is in hierdie konteks dat Jeep se nuwe bakkie gesien moet word. As ’n vervaardiger van bewese veldryvoertuie het ’n bakkie – enkel- of dubbelkajuit – baie sin. Trouens, dit is ook met redelike sukses by Land-Rover se Defender-bakkie gesien.

Dit blyk dus dat Jeep inderdaad ’n enkel- en dubbelkajuitbakkie oorweeg, wat beteken hy sal die werkesel- en leefstylmark kan bedien. Die groep oorweeg sy Wrangler-onderstel hiervoor, met die langer asafstand van die Wrangler Unlimited wat ’n goeie basis sal bied. Veral noudat die Defender nie meer gebou word nie, is daar ’n ekstra gaping vir Jeep om aan te gryp.

’n Nuwe Wrangler word in November op die Los Angeles-skou gewys, wat beteken ’n bakkie geskoei op dié nuwe voertuig behoort in 2019 – of ’n jaar vroeër al – markgereed te wees. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer