Jarmann opnuut voor strawwe toets
Jarmann opnuut voor strawwe toets

Jarmann opnuut voor strawwe toets

Tielman van Lill
Boks

Tielman van Lill – Die Namibiese middelgewigte Anthony Jarmann en Paulinus ”John John” Ndjolonimus pak mekaar op 16 Oktober in ’n herontmoeting wat reeds boksliefhebbers se monde laat water.

Die 37-jarige Jarmann (17 gewen, 4 verloor, 1 gelykop) en Ndjolonimus (12-0) was reeds vroeër vanjaar handgemeen. John John is vroeg vir die eerste keer in sy loopbaan platgeslaan, voor hy in die tiende ronde met ’n uitklophou op ’n moeë Jarmann vorendag gekom het om die Wêreldboksorganisasie (WBO) se vakante Afrika-supermiddelgewigtitel syne te maak.

Volgens die tellinghouer was Jarman in die tiende ronde nog voor met punte, sê Nestor Tobias van die MTC Nestor Sunshine-boksakademie.

“Ek is nie ’n tellinghouer nie, maar ek verstaan Jarmann was voor met punte toe John John hom uitgeslaan het. Daai aand was daar net een wenner. Hulle (MTC Salute-boksakademie) het aan my deur kom klop om te hoor of ons sal kans sien vir ’n herontmoeting. Jarmann glo hy kan my bokser klop en dink hy het homself te na gekom toe hy deur John John uitgeslaan is.

“Ek het my bokser gevra of hy gewillig is en hy het onmiddellik ingestem. John John het vir my gesê hy is nog nie klaar met Jarmann nie en sal dié keer seker maak sy uitdager is klaar met boks.

“So, hier is ons nou met die Together As One Part 4-toernooi en hulle twee sal in die hoofgeveg vir John John se Afrika-titel deur die toue klim.

“Ek het op die oomblik vyf gevegte vasgeknoop, maar ek beplan minstens 14 gevegte vir die dag. Ek het ’n hele klompie ontluikende boksers in gedagte en Jeremiah Nakathila sal ook sy terugkeer in die liggewigafdeling teen Tinashe Mwadziwana van Zimbabwe maak.

“Die toernooi sal weer by die Windhoek Buiteklub aangebied word. Of dit binnenshuis of in die ope lug gehou gaan word, moet ek nog besluit.

“Dit gaan ’n groot aand wees. Ons is ’n klein landjie wat al ’n hele klomp kampioene opgelewer het. Daar is ’n nasionale kapokgewigtitel op die spel, terwyl ’n WBO Afrika-titel, WBO globale titel asook ’n internasionale liggewigtitel voor die hoofgeveg beslis sal word.

“Baie dankie aan MTC wat steeds in boks belê; ons waardeer dit,” het Tobias gesê.

Jarmann het gesê: “Ek bedank God vir die geleentheid om weer te kan veg en dankie ook aan Nestor en MTC vir die geveg. Elkeen verdien ’n kans om sy foute reg te stel.

“Ek gaan hierdie geleentheid met beide hande aangryp. Baie mense sê ek het amper die eerste geveg gewen, maar amper is nie goed genoeg nie en dit tel nie vir my nie.

“Ek werk tans baie hard en het aan my foute geskaaf om ’n beter weergawe van myself in die kryt te wees. Ek sien geweldig uit na die geveg.”

’n Selfversekerde Ndjolonimus was nie beïndruk met sienings dat hy met ’n “gelukkige” hou die geveg teen Jarmann gewen het nie.

“Ek wil eerstens vir Nestor en MTC bedank. Jarmann sê hy is nog nie klaar met my nie. Hy moet dit waardeer dat ek bereid is om weer teen hom te boks.

“Sommiges sê ek met ’n gelukkige hou gewen, maar wie is die kampioen? Die geveg was binne twee sekondes verby. As hy (Jarmann) so sê, het ons beslis sake wat afgehandel moet word.

“As gesê word ek was gelukkig om die botsing in die tiende ronde te wen, het ek en Jarmann beslis ’n appeltjie om te skil. Dis die enigste rede hoekom ek ingestem het – om te bewys dit was geen gelukskoot nie.

“Ek sal weer as die onbetwiste kampioen uit die kryt klim,” het John John vol vertroue gespog.

Die gevegskedule sover (al die boksers van Namibië, tensy ander aangedui)

1 Nasionale superkapokgewigtitel (10 rondes): Matheus Heita (5-0) tn Julius Sheefeni (10, 5, 4, 1).

2 WBO Afrika-weltergewigtitel (10 rondes): Charles Shinima (12-0) tn Mohammed Muta van Tanzanië (10-2-1).

3 WBO globale superkapokgewigtitel (12 rondes): Phillipus “Energy” Nghitumbwa (15, 14, 1) tn Innocent Mantengu van Suid-Afrika (14-5-1).

4 Internasionale liggewigtitel (8 rondes): Jeremiah Nakathila (22-2) tn Tinashe Mwadziwana van Zimbabwe (17-13).

5 WBO Afrika-supermiddelgewigtitel (12 rondes): Paulinus “John John” Ndjolonimus (12-0) tn Anthony Jarmann (17-4-1).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer