Jarmann kry sy wraakgeveg

Boks
Tielman van Lill
Die MTC Nestor Sunshine-boksakademie bied op 16 Oktober sy Together as One Part 4-boksbonanza by die Windhoek Buiteklub aan.

Die hoofgeveg sal die herontmoeting tussen die onoorwonne Paulinus Ndjolonimus en die ervare kryger Anthony Jarmann wees.

Ndjolonimus het verskeie van die vroeë rondes met punte verloor en is vir die eerste keer in sy beroepsloopbaan platgeslaan, maar namate sy opponent later moeg geraak het, het hy in die tiende ronde 'n genadelose uitklophou met die regtervuis gelewer.

Ná groot belangstelling in 'n tweede geveg tussen dié twee, plaas die jonger vegter die WBO Afrika supermiddelgewigtitel op die spel wat hy in April teen Jarmann ingepalm het.

MTC Sunshine-promosies het gister die volledige skedule van gevegte vir die aand bekend gemaak. Die onoorwonne Charles Shinima, tevore 'n superweltergewig, skuif na 'n ligter gewigsklas in sy voorneme om die WBO Afrika-weltergewigtitel teen Suid-Afrika se Innocent Mantengu in te palm.

Jeremiah Nakathila, op sy terugkeerpad ná sy onsuksesvolle aanslag op 'n wêreldtitelgeveg teen Shakur Stevenson in Las Vegas in Juniemaand, sorg ook dat hy besig bly teen Mohammed Muta van Tanzanië.

Phillipus Nghitumbwa wil ook sy opgang as superkapokgewig onderstreep deur oortuigend met Innocent Mantengu van Suid-Afrika af te reken.



Al die boksers is van Namibië, tensy anders aangedui.

1 Veergewig (4 rondes): Sam Mathews (7 gewen, 2 verloor, 1 gelykop) tn Wilhem Shili (1-1-2).

2 Superkapokgewig (4 rondes): Phillipus Shaanika (7-0-1) tn Joseph Abel (2-2-1).

3 Junior middelgewig (4 rondes): Abed Shikongo (5-0) tn Andreas Shikongo (debuut).

4 Veergewig (4 rondes): Onesmus Nekundi (9-5-3) tn Festus Matias (0-7-1).

5 Junior weltergewig (4 rondes): Paulus Amavila (7-0-1) tn Fillemon Erastus (1-0-1).

6 Weltergewig (4 rondes): Emmanuel Mungandjela (15-3-1) tn Hedison Nghipondoka (3-3).

7 Supermiddelgewig (4 rondes): Joseph Hihangwa (1-2) tn Nehale Shikongo (debuut).

8 Nasionale superkapokgewigtitel (10 rondes): Matheus Heita (5, 5) tn Julius Sheefeni (5-4-1).

9 Superkapokgewig (6 rondes): Nestor Thomas (1-0) tn Lamek Fabian (1-1).

10 WBO Afrika-weltergewigtitel (10 rondes): Charles Shinima (12-0) tn Mohammed Muta van Tanzanië (10-2-1).

11 WBO globale superkapokgewigtitel (12 rondes): Phillipus Nghi­tumbwa (14-1) tn Innocent Mantengu van Suid-Afrika (14-5-1).

12 Veergewig (4 rondes): Martin Mukungu (3-1) tn John Herman (1-1).

13 Junior weltergewig (4 rondes): Nestor Amukoto (1-1-1) tn Eslon Kalus (1-1).

14 Junior liggewig (8 rondes): Jeremiah Nakathila (22-2) tn Tinashe Mwadziwana van Zimbabwe (17-13).

15 WBO Afrika-supermiddelgewigtitel (12 rondes): Paulinus Ndjolonimus (12-0) tn Anthony Jarmann (17-4-1).

• Enkelkaartjies is vir N$400 elk te koop, of 'n tafel vir agt belangrike gaste is vir N$12 000 beskikbaar (ete ingesluit).

FOTO’s
Nadat Paulinus Ndjolonimus in April die WBO Afrika-gordel ingepalm het, het hy sommer dadelik aan Anthony Jarmann ’n herontmoeting toegestaan. Foto Andrew Poolman

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer