J&J wen appu00e8l oor babapoeier
J&J wen appu00e8l oor babapoeier

J&J wen appèl oor babapoeier

Die appèlhof in die Amerikaanse deelstaat Missouri het ’n hofuitspraak dat Johnson & Johnson (J&J) US$72 miljoen aan skadevergoeding aan ’n eiser moet betaal, tersyde gestel.
Estelle de Bruyn
Johnson & Johnson (J&J) is daarvan beskuldig dat sy babapoeier verantwoordelik was vir die dood van Jacqueline Fox in 2015.

Fox is dood aan kanker van die eierstokke.

Dit was die eerste van verskeie hofsake wat in die streekhof in St. Louis in dié deelstaat aangehoor is.

Juries het vroeër bevind J&J moet meer as US$300 miljoen as skadevergoeding aan verskeie mense betaal.

Die appèlhof se besluit kan nou ook ’n invloed op die ander uitsprake hê.

Daar is ook honderde ander eise teen J&J oor sy babapoeier wat nou in die weegskaal is.

Die appèlhof het, net soos wat die Amerikaanse hooggeregshof in Junie bevind het, gesê mense wat in ander deelstate woon, kan nie hul eise in enkele klasaksie-sake saamgooi nie.

Die appèlhof se uitspraak het gelui dat “ ’n nie-inwoner wat eis, moet ’n onafhanklike grondslag vir spesifieke persoonlike jurisdiksie oor die verweerder in die spesifieke staat vestig”.

Volgens die hof het Fox se familie, wat die eis ingestel het, nie aan dié vereiste voldoen nie.

Carol Goodrich, woordvoerder van J&J, sê hulle het die heeltyd geargumenteer iemand wat nie in Missouri woon nie, kan nie ’n maatskappy wat daar gesetel is, dagvaar nie.

“Ons verwag dat bestaande uitsprake waarteen ons appèl aangeteken het, ook tersyde gestel sal word.”

J&J hou voet by stuk dat daar geen verband tussen kanker van die eierstokke en sy babapoeier of Shower to Shower-poeierprodukte is nie.

Ted Meadows, die prokureur wat die Fox-familie verteenwoordig, sê “vandag se beslissing ontneem die Fox-familie van hul reg om geregtigheid te kry”.

“Die bewyse en die wetenskap steun steeds die slagoffers se aansprake. Dit sal mettertyd so bewys word.”

J&J word deur meer as 5 000 soortgelyke eise regoor die VSA in die gesig gestaar. Meer as 1 000 hiervan is in St. Louis.

Skadevergoeding van US$72 miljoen is in Februarie 2016 aan Fox se familie toegeken.

Verder is daar ook skadevergoeding aan ander eisers van US$55 miljoen en US$70 miljoen in 2016 toegeken, asook US$110 miljoen vroeër vanjaar.

’n Hof in Kalifornië het ’n eis van US$417 miljoen in Augustus van die hand gewys. – Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar

Republikein 2025-09-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer