Janco begin skryf sy Saracens-storie
Janco begin skryf sy Saracens-storie

Janco begin skryf sy Saracens-storie

Die atletiese losvoorspeler het reeds die stempel van goedkeuring van sy Namibiese voorganger by Saracens, Jacques Burger, gekry.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – “Dis 'n droom wat waar word; ek kan beswaarlik uitdruk hoe opgewonde ek is,” sê Janco Venter oor die bevestiging van sy kontrak met die Londense spogklub Saracens.

Die formaliteite is eindelik afgehandel en die bekendmaking op die klub se webblad gedoen, nadat die eerste gerugte oor Venter se skuif reeds in middel Februarie gepubliseer is.

Die 25-jarige losvoorspeler het die laaste twee seisoene vir Jersey Reds in die Engelse Kampioenskap (vlak 2 van die professionele spel in dié land) gespeel en het hulle gehelp om in die 2018-'19 seisoen hul hoogste eindposisie nóg (vierde) te behaal.

Saracens is die heersende Europese kampioenklub, nadat hy die Ierse klub Leinster verlede jaar in die eindstryd van die Heineken-kampioenskap met 20-10 verslaan het. Dit was inderdaad hul derde kontinentale titel in vier seisoene.

Die spogklub is egter uit die Engelse premierliga na die Kampioenskap gerelegeer, nadat hy skuldig bevind is aan die oortreding van die beperkings wat op spelers se salarisse van krag was.

Saracens lewer gewoonlik 'n groot gros nasionale spelers vir Engeland en die volslae verwagting is dus dat die klub nie langer as een seisoen nodig sal hê om promosie terug na die premierliga te verwerf nie.

Venter sê: “Toe ek die eerste keer in Engeland kom speel het, was dit altyd met die droom en ambisie om by 'n klub in die premierliga te speel. Saracens was altyd boaan die lys.

“Dit is dus 'n wonderlike geleentheid om myself voortdurend te ontwikkel. Ek dink nie daar is 'n beter plek om dit reg te kry as by Saracens nie. Uit die manier hoe die afrigter met my gepraat het en die manier hoe alles opgestel is, kom jy agter hulle wil die speler tot die maksimum van sy potensiaal laat ontwikkel.

“Vandat ek vir Namibië gespeel het en 'n proe gekry het van die hoër vlak en om aan jou talent te voldoen, is dit waarna ek die meeste uitsien.

“Die Kampioenskap is 'n uitdagende liga. Daar is geen tyd om terug te sit en te ontspan nie. Jy moet die hele toernooi, vanaf die eerste wedstryd, in beheer van die stuurwiel bly en jou voet op die pedaal hou.

“Oor tien jaar van nou af sal dit deel van die storie wees – hoedat ons die eerste seisoen ons pad uit die Kampioenskap moes oopveg om terug in die premierliga te kom. Dit is die storie wat ek oor tien jaar sal wil vertel.”

Venter het in 2013, minder as twee maande ná sy 19de verjaarsdag, sy toetsdebuut vir Namibië gemaak, toe die destydse afrigter Danie Vermeulen hom teen Zimbabwe in Windhoek opgestuur het.

Sedertdien was hy 'n instelling in die nasionale span en het in 28 toetse gespeel, wat die laaste twee Wêreldbekers (Engeland 2015 en Japan 2019) insluit.

As student het hy ook in Varsity-rugby vir Maties, asook op provinsiale vlak vir die Westelike Provinsie uitgeblink.

Saracens se direkteur van rugby, Mark McCall, het aan die klub se webblad gesê hy is opgewonde oor die aankoms van die veelsydige baldraer en lynstaanspeler wat 107 kg weeg en 1.94 meter lank is.

“As 'n klub het ons sy spel die afgelope twee seisoene dopgehou en ons is vol vertroue dat ons vir Janco kan help om sy spel na nuwe vlakke te neem.

“Sy potensiaal maak 'n mens baie opgewonde en ons het 'n ferm geloof dat sy beste speeldae nog voorlê.”



STEWELS OM TE VUL

Sedert die aankondiging is Saracens se ondersteuners opgewonde om Venter in die rooi trui in aksie te sien.

Die hoë verwagtinge is uiteraard gegrond op die nalatenskap van sy Namibiese voorganger Jacques Burger wat gedurende sy 104 wedstryde vir die Londenaars groot hoogtes bereik het.

Burger self het oor die nuus sy stempel van goedkeuring getwiet: “Baie in my noppies namens Janco. Ek het nog altyd gereken hy is uiters talentvol en enige afrigter se droom. Boonop is hy 'n baie aangename ou. Hy verdien die kans en ek wens hom die beste in sy loopbaan toe.”



JERSEY RUIL NAMIBIëRS

Saracens het vandeesweek ook Venter se spanmaat van Jersey Reds, die Engelse stut Alec Clarey, se dienste vir die 2020-'21 Kampioenskap bekom.

Die eilandspan Jersey het verlede maand bevestig dat die Namibiese vleuel Lesley Klim een van 15 nuwe aanwinste vir die komende seisoen is.

Klim (25) het met twee wedstryde by verlede jaar se Wêreldbeker, teen die Springbokke en die All Blacks, sy getal toetse tot 13 opgestoot (agt drieë). Die voormalige agterspeler van die Universiteit van Namibië was vir een seisoen by Doncaster Knights (Engeland) voordat hy na die Walliese Pro14-klub Ospreys aanbeweeg het, waar hy egter vanweë beserings selde tot sy reg gekom het.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer