Jammer vir die disko, Trappist-1
Jammer vir die disko, Trappist-1

Jammer vir die disko, Trappist-1

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Met die onlangse ontdekking van Nasa se sewe nuwe planete wat soortgelyk aan die aarde is en glo sommer net om die draai van ons geleë is, het die spreekwoordelike kring van die spotters ook nie op hulle laat wag nie en stelling rondom die ruimte-agentskap kom inneem.

“Sewe nuwe planete is vandag ontdek, maar ek soek steeds vir tekens van intelligente lewe op aarde,” meen iemand op Twitter.

Die kontroversiële Amerikaanse president, Donald Trump, het natuurlik volgende deurgeloop: “Jip,” sê hulle, “nou gaan Trump seker sê meer aarde-tipe planete is tydens sy presidentskap as in dié van Obama ontdek.” Ewe selfvoldaan.

“Ja, Nasa sê dit kon geen tekens van intelligente lewe in die Withuis kry nie,” kwetter iemand anders op sosiale netwerke.

“Dis Ironies. 'n Maand nadat Trump president geword het, vind Nasa dié planete, wat drie bewoonbares insluit, en meen daar is genoeg plek vir almal van ons! Waarvoor wag ons!”

“Die goeie nuus is dat sewe nuwe bewoonbare planete ontdek is. Die slegte nuus is dat Rusland reeds by hul verkiesings inmeng! En die Republikeinse party ontken reeds die bestaan van aardverhitting op die sewe planete,” word daar getweet.

Nasa het ook onder kritiek deurgeloop weens die keuse van name vir die sonnestelsel, wat beslis nie so “ultrakoel” soos sy dwergster is nie.

“A, b, c, d, e, f, g, h? Nasa, ons is mal oor julle, maar gesels gerus met die Star Wars- of Star Trek-mense vir gepaste name?” tweet ene Oliver Willis.

Dit was ook nie lank nie of Nasa vra op Twitter vir die publiek om name deur die gebruik van die hutsmerk #7Namesfor7NewPlanets voor te stel.

Mense laat nie op hulle wag nie en voorstelle sluit in die name van Sneeuwitjie se dwerge of die Weasley-kinders se name uit die Harry Potter-reeks. Ander meen dit moet na die dae van die week vernoem word, waar “Maandag” die planeet naaste aan die dwergson verteenwoordig.

“Want, dit moet hel wees om daar te leef.”

Blykbaar is ons 'n klomp narre en kan die mensdom niks meer ernstig opneem nie.

Ruimtewetenskaplikes meen egter hierdie ontdekking is merkwaardig omdat dit die grootste eenmalige ontdekking van nuwe “aardes” is waarvan tot drie planete moontlik lewe kan huisves. Boonop is dit net sowat 40 ligjare van ons af geleë.

In terme van die massiewe heelal, is dit “naby,” of sowat 369 triljoen kilometer ver. Sou ons teen die spoed van lig kon vaar, sal dit ons dus veertig jaar neem om dit te bereik.

Die vinnigste ruimtetuig tot dusver is egter Voyager 1, wat aanvanklik een seshonderste (1/600) van 'n ligjaar in dertig jaar gereis het. Die ruimtetuig vaar steeds, maar dit het 'n heeltemal ander eindbestemming. Sou dit egter na die Trappist-1 gestuur word, sal dit 685 000 jaar neem om dit te bereik.

Twitter se spotters was nog nie klaar nie.

“Veertig ligjare weg? Dit beteken hulle ontvang tans ons radio- en televisieseine van 1977. Jammer vir die disko, julle!”

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer