Jaers gereed vir aanslag by Walvisbaai

Tydrenne
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die 2016 Omahooli Systems Walvisbaai-tydren spring môre om 09:30 by die Jan Wilken-stadion weg. Die 107,8 kilometer en nege spesiale sneldele tel as die vierde ronde van die Namibiese tydrenkampioenskap.

Wilro Dippenaar het die 2014 weergawe gewen, voordat laasjaar se tydren nie plaasgevind het nie. Dippenaar staan weer ’n goeie kans om sy onlangse sukses van die 2016 Shell V-Power Gobabis-tydren saam met navigator Riaan van der Westhuizen in sy S3 Toyota Auris voort te sit.

Spanne sal ook die geleentheid wil gebruik om enige haakplekke voor die Tara-tydren uit te stryk wat op 18 en 19 November deur die Windhoek Motorklub aangebied word.

Hoewel die vlieënde Dippenaar op Gobabis skoonskip gemaak het, was die S3 Toyota RunX van Jaco Redelinghuys en navigator Dries Booysen nooit ver agter hom nie. Die manne van Gobabis is slaggereed om hul goeie peil van onlangs voort te sit en sal beslis stywe teenstand aan die plaaslike jaers soos Allan Martin en navigator Melvin Gouws (S3 VW Polo) bied.

Nadat die Polo van Jan Everson in die voorlaaste skof van die Gobabis-tydren gebreek het, kan selfs die kombinasie van Everson en Fanie Botes in sy S2 VW Polo weer strawwe mededinging aan die manne in die S3-klas bied.

Martin se Groenmamba was ook vol nukke in die Beeskontrei en kon nie die tydren voltooi nie. Maar met ’n nuwe hart in die borskas sê Martin sy yster is weer gereed om die pap lekker dik aan te maak.

“Die kar voel goed, want ek het ’n nuwe enjin ingesit en die foutiewe inspuitpomp vervang. Dit gaan ’n vinnige ren wees en nie een van die sneldele gaan twee keer gery word nie. Die laaste skof is ’n sneldeel wat in die dorpsgebied om die Burgersentum gejaag gaan word wat vir groot opwinding gaan sorg.

“Die Walvisbaai-tydren is sekerlik die gewildste onder deelnemers en ons verwag meer as twintig inskrywings,” het Martin opgewonde vertel.

Richard Slamet en navigator Wiets Coetzee maak vir die eerste keer sedert die Tsumeb-tydren hul terugkeer in sy IS Freight Services S3 Toyota RunX. Slamet was ’n maand gelede ná sy ongeluk op die Tony Rust-renbaan nog te seer om aan die Gobabis-tydren deel te neem, maar is nou weer op die been. Hy sê hy gaan sake versigtig benader.

“Ek het lanklaas in die bestuurdersitplek geklim; hierdie sal my eerste keer sedert my ongeluk wees. Hoewel ek bietjie senuweeagtig is, sal ons reg vir Saterdag se aksie wees. Ek sal die skoenlappers vinnig uit my maag moet kry. My leuse is mos maar om rustig te begin, my voete te vind en dan algaande momentum op te bou,” het Slamet gesê.

Dippenaar se vertoning op Gobabis was oënskynlik foutloos, maar volgens hom sluip ’n onvoorsiene foutjie tog soms in.

“Ek weet nog nie wie almal ingeskryf het nie, maar as ek so vinnig moet sê, reken ek Jaco Redelinghuys en Allan Martin gaan strawwe teenstand bied. Ek en Riaan (navigator) is baie geseënd om so ’n lekker goeie span te maak en goed saam te kan ry. Al maak ons foute sal ons dit altyd professioneel oplos.

“Dit help ook om ’n goeie diensspan en borge soos Shell V-Power, PZN Panelbeaters en Fast Signs asook ondersteuners agter ons te hê. Dit alles maak dat ons die sport kan geniet en ons talent beoefen,” het Dippenaar beskeie vertel.

Ander klaswenners van die Gobabis-byeenkoms wat dopgehou kan word, is Pieter Greeff/Steven Robinson, Roland Himmel/Juan Erlank en Jannie Coetzee/George Coetzee.

Die broers Stefan en Lappies Labuschagne wat die S4-klas gewen het, kan vanweë werkverpligtinge nie aan die Wavisbaai-tydren deelneem nie en Bertie Smit se beskadigde Mazda-bakkie is nog nie herstel ná sy rolslag by die skouterrein nie.

’n Nuutjie wat vir groot opwinding gaan sorg, is sneldeel 8 langs die M36-pad wat in die nywerheidsgebied voltooi gaan word. Dit word as super spesiaal deur die organiseerders beskryf en toeskouers sal kan sien hoe die bestuurders hul vernuf ten toon stel wanneer hulle saam wegspring en jaag.

Die name van die sneldele, met die vertrektye van die eerste span is soos volg: 09:30 vanaf Jan Wilken-stadion na Duin 7: 1. Duinsewe 09:50. 2. Lughawe 10:15. 3. Windmeel 10:31. 4. Dany 11:41. 5. Rooibank 12:06. 6. Desert Raceway 12:35. 7. Kerk 13:45. 8. Nywerheidsgebied 14:40. 9. Remax Burgersentrum 15:20.

Die spanne:

• Jannie Coetzee/George Coetzee, S2 VW Polo (tans 1ste in die kampioenskap)

• Pieter Greeff/Steven Robinson, S1 Toyota Corolla (2de)

• Jaco Redelinghuys/Dries Booysen, S3 Toyota RunX (3de)

• Peer Röhm/Eugene Marais, S1 Toyota Auris (4de)

• Etienne vd Heever/Willy van Wyk, S2 Toyota RunX (5de)

• Allan Martin/Melvin Gouws, S3 VW Polo (6de)

• Richard Slamet/Wiets Coetzee, S3 Toyota RunX (7de)

• Wilro Dippenaar/Riaan van der Westhuizen, S3 Toyota Auris (8ste)

• Willem Hugo/Mandi Hugo, S4 Subaru Impreza (9de)

• Jan Everson/Fanie Botes, S2 VW Polo (10de)

• Roland Himmel/Juan Erlank, S1 Toyota Etios (11de)

• Marco Luis/DeWet du Plessis, S4 Subaru Impreza (12de)

• Welmie Kühn/ST Kühn, S1 Toyota RunX (15de)

• Freddie van Niekerk/Peter-Alan Alchin, S4 Ford Courier (16de)

• Oswaldo Mendes/Cecil Koortz, S2 VW Golf (22ste)

• Gert Coetzee/Hugo Arangies, S2 Ford Focus ST (23ste)

• Tinus Malan/Paul van Wyk, S2 Toyota MR2 (24ste)

• Morné Oosthuizen/Jacque Kruger, Off Road APP Zarco Soil Master

• JayDee Kessler/Willem Wessels, Toyota Conquest

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer