Jaaroorsig: ASA moet lesse uit misoes leer
Jaaroorsig: ASA moet lesse uit misoes leer

Jaaroorsig: ASA moet lesse uit misoes leer

Atletiek
Wim Pretorius - Die einde van 2019 se atletiekseisoen het Suid-Afrikaanse ondersteuners met een groot vraag gelaat: Wat op dees aarde het skeefgeloop?

Toe die laaste skote geklap het by die atletiek se Wêreldkampioenskap op 13 Augustus 2017 in Londen, was almal dit eens dat die Reënboognasie homself weer as ’n krag in dié sport onderskei het.

Met drie wêreldkampioene, Wayde van Niekerk (400 m), Caster Semenya (800) en Luvo Manyonga (verspring), asook ’n derde plek op die amptelike medaljelys, het sake rooskleurig gelyk.

Draai die horlosie egter twee jaar vorentoe na Doha en dinge het handomkeer verander.

Suid-Afrika het sy swakste prestasie by die Wêreldkampioenskap in 12 jaar behaal.

Van Niekerk was vir ’n tweede jaar langs die kantlyn nadat hy hom in Oktober 2017 tydens ’n raakrugbywedstryd op Nuweland beseer het.

Hy het weer sy eerste proesel op die baan gehad by Vrystaat se provinsiale atletiekbyeenkoms, maar was nog nie naastenby gereed om die wêreld se bestes te pak nie.

Hy het gevolglik die byeenkoms in Katar misgeloop.

Semenya is boonop die groot terugslag toegedien dat sy die teiken van Wêreldatletiek se nuwe regulasies geword het teen vroueatlete met buitengewone natuurlike hoë testosteroonvlakke.

Ná ’n hofstryd by die Internasionale Hof vir Sportarbitrasie (CAS), wat in Switserland gesetel is, het Semenya haar saak verloor om dié regulasies ongeldig te laat verklaar.

Sedertdien kruis sy en Wêreldatletiek (die nuwe naam vir die IAAF) swaarde in die federale hooggeregshof in Switserland, waar sy teen die CAS se beslissing appelleer.

Hoewel sy kortliks weer toegelaat is om deel te neem in haar gunsteling-items (800 en 1 500), het ’n Switserse regter die besluit omgekeer en moes sy gevolglik ook die Wêreldkampioenskap op TV dophou.

Dié saak sal eers in 2020 afgehandel word.

Vandat Manyonga in Londen op die boonste trap van die podium gestaan het, kon hy daarna net eenvoudig nie weer dieselfde peil bereik nie.

Hy het paaie geskei met sy breier, Neil Cornelius, en lyk glad nie meer ná die kampioen wat hy nog onlangs was nie.

Manyonga was in Doha in aksie, maar moes met die vierde plek tevrede wees.

Ander SA atlete van wie baie verwag is, het ook nie aan die verwagtinge voldoen nie.

Akani Simbine het ’n paar skittertye in 2019 in die 100 behaal, maar sukkel steeds om sy eie Suid-Afrikaanse rekord van 9.89, wat hy in 2016 opgestel het, in die slag te laat bly.

Hy het twee keer ’n blitstyd van 9.93 sekondes, asook ’n 9.95 vanjaar gehardloop, maar sal in 2020 veel vinniger as sy persoonlike beste moet hardloop as hy ’n medalje by die Olimpiese Spele in Tokio wil verower.

In Doha moes hy met ’n vierde plek tevrede wees.

Nietemin is alles nie verlore nie.

Die mans se 4x100-aflosspan het ’n nuwe Afrika-rekord (37.65) opgestel. Dít sonder Van Niekerk in sy geledere.

Suid-Afrika het boonop ’n nuwe streekrekord in die 4x200 opgestel, met ’n tyd van 1:20.42 by die Wêreld-aflosbyeenkoms in Jokohama.

Die meeste van die Suid-Afrikaners wat na Doha is, was al in die agtste maand van hul seisoen teen die tyd wat die byeenkoms aangebreek het.

Atletiek Suid-Afrika (ASA) moet dalk sy seisoen herskik in jare waarin byeenkomste soos die Olimpiese Spele, Wêreldkampioenskap en Statebondspele beslis word.

In 2018 het die Statebondspele saam met die plaaslike atletiekseisoen geval. Die atletiekspan het toe 28 medaljes verower. Miskien is dít ’n leidraad wat by ASA moet insink. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer