Jaaroorsig 2016: Oktober – Desember

Dani Booysen
Cites verwerp Namibië en Zimbabwe se voorstelle om opgehoopte ivoorvoorrade te verkoop.

Vier Chinese smokkelaars wat in Maart 2014 onwettig 14 renosterhorings en ‘n luiperdvel via die Hosea Kutako Internasionale Lughawe uit die land probeer smokkel het, word elk tronkstraf van langer as 10 jaar opgelê.

Die Namibië Landbou-unie (NLU) doen tydens sy jaarlikse kongres verslag dat 9,3 miljoen hektaar uit 37,4 miljoen se beskikbare kommersiële landbougrond reeds deur hervorming aan voorheen benadeeldes oorgedra is.

Die bekende Swapo-leier en voormalige aanvoerder van die Rally for Democracy and Progress (RDP), mnr. Hidipo Hamutenya (77), sterf op 6 Oktober 2016 en word op 15 Oktober by Helde-akker begrawe.

Die regering is onsuksesvol met ‘n hofaansoek om ‘n staking deur onderwysers te stuit. Die staking begin op Donderdag 13 Oktober, maar by talle skole is personeel tog aan diens. Die onderwysvakbond aanvaar ‘n verhoging van 9% eerder as 7% vir 2017 en daarmee word die staking ná twee dae beëindig hoewel dit op plekke ‘n week langer neem voordat almal terug aan diens is.

Die Aksiegroep teen Plundering betoog op Walvisbaai teen ‘n aansoek deur Chinese sakelui om lewende seediere in Namibiese waters te vang.

Eksamens by die Universiteit van Namibië (Unam) kom midde ontwrigting uit die blokke weens betogings oor die eis dat skuld gedelg moet word voordat studente mag skryf.

Verteenwoordigers van die Ovaherero en Nama betoog daarteen dat hulle nie as partye ingesluit is by volksmoordonderhandelinge tussen Duitsland en Namibië nie. Dié groepe dreig ook met ‘n hofsaak om die gesprekke te stuit.

Die ministers van die omgewing en toerisme en visserye en mariene hulpbronne bots oor die uitreiking van ‘n omgewingsertifikaat aan ‘n beplande aflandige fosfaatmyn naby Walvisbaai. Openbare verset dra by daartoe dat goedkeuring onttrek word totdat daar bykomende inspraak deur belanghebbendes kan wees.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, skort N$4,5 miljard se uitgawes op in die hersiende begroting vir die huidige finansiële jaar.

Tien persone, nege kinders en ‘n volwassene, sterf uiteindelik in ‘n skoktragedie nadat ‘n gasbottel op die aand van 14 Oktober op die plaas /Garib, naby Dordabis, ontplof terwyl mense saam sit en televisie kyk.

Namibië bied in November in Windhoek ‘n internasionale beleggingskonferensie aan wat deur meer as 1 000 afgevaardigdes besoek word.

Die wêreld word onkant betrap deur mnr. Donald Trump se onverwagse oorwinning in die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Ses mense sterf op 8 November in ‘n ongeluk tussen Rehoboth en Windhoek toe ‘n minibus ‘n bees tref. Op 11 November kom ewe veel mense in ‘n kop-teen-kop botsing tussen Okahandja en Otjiwarongo om.

Die Paaiekontrakteursmaatskappy (RCC) sukkel met geld om salarisse te betaal en werk aan die nuwe verbypad na die Hosea Kutako Internasionale Lughawe word tydelik gestaak weens agterstallige betalings aan kontrakteurs deur die Paaieowerheid (RA).

Die veroordeelde moordenaar, mnr. Lazarus Shaduka, gee homself op 14 November aan die Namibiese konsulaat op Ondjiva oor nadat hy in byna vier jaar gelede na Angola gevlug het om tronkstraf vry te spring.

Die supermaan van 14 November het ook Namibiese kameras landwyd aan die klik.

‘n Uitgerekte regsgeding teen die geldigheid van die waardasierol vir kommersiële landbougrond ly uiteindelik skipbreuk ondanks die bevinding dat behoorlike praktyke nie gebruik is om die rol, wat die waarde van grondbelasting bepaal, saam te stel nie. Daar is tog ‘n mate van sukses deurdat boere wat hul tot die waardasiehof gewend het, 40% afslag kry. Dit geld egter nie vir boere wat nie beswaar gemaak het nie.

Republikein onthul dat reisende politici in die buiteland maksimum bedrae wat wissel van N$20 000 tot byna N$50 000 per dag vir reis- en verblyftoelae kan verdien.

Die superster R. Kelly se besoek aan Namibië word op die laaste nipper gekanselleer.

Die toerismebedryf teken in Oktober ‘n rekordbesettingsyfer van 84% aan.

Sewe renosterkarkasse word in November in Etosha gevind.

‘n Chinees glip met 18 renosterhorings deur skandeerders op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe, maar word by O. R. Tambo in Johannesburg aangekeer.

Meer as 1 000 konstruksiewerkers het reeds hul werk verloor en die bedryf se federasie, die CFI, sê nog honderde werke is op die spel indien die regering nie agterstallige skuld van meer as N$1 miljard gou betaal nie.

Pres. Hage Geingob aanvaar volgens die presidensie op 13 Desember mnr. Bernadus Swartbooi se bedanking as adjunkminister van grondhervorming nadat hy beweer het dat sy minister, mnr. Utoni Nujoma, teen inwoners van die Suide diskrimineer met die toekenning van hervestigingsgrond. Swartbooi het geweier om verskoning vir sy uitsprake aan te teken en ontken steeds dat hy bedank het.

Volgens die staatshoof se verslag oor vordering met die Harambee-voorspoedplan is onder meer 1 681 nuwe laekostehuise reeds binne ses maande gebou. ‘n Uitvoerige verslag aan die nasie word op 13 Desember direk vanaf Staatshuis uitgesaai en die regering sê hy verwag om in die eerste jaar van die projek 80% van doelwitte te behaal.

Mnr. Dirk Mudge word deur die Universiteit van Stellenbosch met ‘n eredoktorsgraad vereer vir sy bydrae tot die demokratiese oorgangsproses in Namibië. Nog twee Namibiërs, dr. Japie van Zyl (verbonde aan Nasa) en prof. Jan du Plessis (ingenieursdosent), word op dieselfde wyse erken.

Ekonomiese data sê Namibië bevind hom in die greep van ‘n resessie.

Namibië word geskok deur die stroping van twee witrenosters op ‘n plaas naby Gobabis. Die stropers kwes in hul aanval nog twee renosters, ‘n koei wat besig was om te kalf en ‘n agtjarige vers.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer