Jaagtog onder ligte teen Oman skiet te kort

Die oefenwedstryd het waardevolle ondervinding opgelewer, sê afrigter Pierre de Bruyn.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Oman het Dinsdag die eerste opponent geword wat die Namibiese Eagles 'n nederlaag in hul vyfde opwarmwedstryd voor die naderende T20 Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate kon toedien.

“Dit was 'n puik oefenwedstryd vir beide spanne, wat enige van 15 spelers in verskillende rolle kon gebruik. Ons fokus was nie op die uitslag nie, maar om onsself vertroud te maak met die omstandighede, want dit was ons eerste wedstryd in twee jaar waarin ons onder spreiligte 'n kolftelling moes jaag,” sê Pierre de Bruyn, afrigter van Namibië.

Oman het 152/8 opgestel, waarna hy Namibië tot 120/9 beperk het.

Nicol Loftie-Eaton, in sy eerste wedstryd ná sy herstel van 'n besering, het as draaibouler 'n ekonomiese 2/24 in sy 4 boulbeurte geneem. Ruben Trumpelmann (2/30 in 4), Bernard Scholtz (1/11 in 2) en Pikky ya France (1/25 in 4) het ook goed geboul.

Namibië was op 2/4, met Stephen Baard (1) en Craig Williams (1) beide uit. Net toe dit begin beter gaan, is Zane Green (27 van 31 balle, vier viere) en David Wiese (3) ook kort ná mekaar uit vir 53/4 ná 11.4 boulbeurte.

Gerhard Erasmus (32 van 33 balle, 2x4) en JJ Smit (15 van 13 balle) was kortstondig saam, maar die druk was uiteindelik te veel vir Jan Frylinck (9), Loftie-Eaton (2) en Ya France (0).

Die laaste kolfpaar het vergeefs probeer inhaal – Karl Birkenstock op 7* van 4 balle en Trumpelmann op 20* van 9 balle, wat die enigste twee sesse van die kolfbeurt geslaan het.

“Dit was nie 'n maklike kolfblad om 'n telling op te jaag nie,” sê De Bruyn.

“Ons het nog twee oefensessies onder spreiligte oor voordat ons Maandag ons eerste WB-wedstryd teen Sri Lanka speel. Almal is baie opgewonde oor Namibië se debuut in die T20 Wêreldbeker en eerste verskyning sedert die 2003 eendag-WB.”

• Namibië speel vanmiddag sy laaste opwarmwedstryd teen Skotland.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer