• Tuisblad
  • Sake
  • Italtile se syfers wys groen lote in ekonomie
Italtile se syfers wys groen lote in ekonomie
Italtile se syfers wys groen lote in ekonomie

Italtile se syfers wys groen lote in ekonomie

Daar is rede om versigtig optimisties te wees oor die ekonomie.
Hanlie Stadler – Die teël- en badkamergroep Italtile sê sy jaarsyfers wys dat verbruikers stadigaan weer meer aan huisverbeterings begin bestee en ontwikkelaars wat projekte op die lange baan geskuif het, weer daardie projekte aan die gang kry.

Italtile as groep bestaan uit drie winkelgroepe wat teëls, krane en sanitêre ware verkoop – Italtile, CTM en TopT – en twee vervaardigers, Ceramic Industries en Ezee Tile.



Die maatskappy het ’n ingewikkelde ses maande tot Desember – gewoonlik die sterkste helfte van sy boekjaar – agter die rug.

Aan die een kant het die groep se omset met 22% tot R4,3 miljard gestyg en sy wins met 21% tot R716 miljoen.

Aan die ander kant het die groep se verkope by winkels wat ook in dieselfde helfte van 2016 oop was, met 3,9% gedaal.

Die groep se basiese verdienste met 4,3% tot 48,6c per aandeel gedaal. Italtile skryf dit toe aan eenmalige winste uit die verkoop van eiendom in dieselfde helfte van 2016.



Jan Potgieter, Italtile se uitvoerende hoof, sê die storie van die halfjaar is eintlik ’n storie van twee tydperke. In die 19 weke van 1 Julie tot 10 November het vergelykbare verkope met 5,4% gedaal, maar vir die res van die halfjaar, tot einde Desember, het verkope sterk gestyg. Die daling in vergelykbare verkope kon dus vir die volle ses maande tot 3,9% verminder word.

Brandon Wood, Italtile se finansiële hoof, beklemtoon ook dat die grootste uitdaging aan kleinhandelkant by een van die groep se drie kettings, CTM, gelê het. CTM bedien veral die middelklasmark, waar mense se inkomste onder geweldige druk en hul skuldvlakke hoog is.

CTM kan wel spog met ’n 30%-toename in aanlyn verkope, wat volgens Wood ook mense na die winkels self gelok het. In Suid-Afrika soek al hoe meer mense inligting aanlyn voordat hulle winkel toe gaan.

TopT, die winkels wat die laerinkomstegroep bedien, het markaandeel gewen en ’n “fantastiese” November en Desember beleef, volgens Wood.

Met Italtile, wat welvarender verbruikers en ontwikkelaars lok, sê Wood kan hy duidelik uit die verkope tekens sien dat vertroue terugkeer.

Weens die swak verkope in 2017, het Italtile ’n groot voorraad teëls gehad wat eers verminder moes word voordat hy nuwe bestellings by sy vervaardigers kon bestel. Potgieter sê die opgehoopte voorraad is nou grootliks uit die weg geruim.

Die halfjaar het ook eindelik ’n einde gebring aan die stryd met die Mededingingskommissie, wat aanvanklik nie wou hê dat Italtile die deel van Ceramic en Ezee Tile wat hy nie besit het nie, terugkoop. Dis ná ’n appèl na die Mededingingstribunaal wel in September toegelaat en Italtile besit nou 95,47% (voorheen 21%) van Ceramic en 71,54% (voorheen 46%) van Ezee Tile.

Wood sê die volle vertikale integrasie wat nou daargestel is, sal oor die volgende ses maande begin om Italtile se syfers positief te beïnvloed.

Ondanks die verskoning van ’n swak ekonomie, lê Italtile klem op dit wat die maatskappy self kan doen om sy koste beter te bestuur en só sy wins te laat groei. In die afgelope ses maande het die groep onder meer skofte herskeduleer en rolle aangepas om seker te maak personeel word optimaal aangewend; inventariskoste word beheer; en verspreidings- en vervoerkoste word beheer. Koste kon só met 3% verminder word.

Italtile se aandeelprys is nie besonder likied nie omdat die bestuur ’n groot persentasie daarvan besit, maar die mark was duidelik nie ingenome met die resultate nie. Die prys het teen 14:00 met meer as 5% tot R13 gedaal. – Netwerk24

WAT IS DIE MODE?

Vergeet van die standaardgrootte, vierkantige teël van 80 cm by 80 cm! Potgieter sê groter teëls is nou wêreldwyd ’n tendens wat ook stelselmatig in Suid-Afrika posvat. Die Italtile-winkelgroep ervaar dit eerste, maar dit begin nou ook na CTM deursypel.

Nog ’n tendens wat al ’n rukkie hier is, is teëls wat soos hout lyk. Mense hou van die voorkoms van hout, maar soek die duursaamheid van teëls.

Ceramic Industries se mededingende voordeel is dat hy ’n reeks luukse teëls, die Gryphon-reeks, plaaslik kan vervaardig, wat dit goedkoper maak as ingevoerde teëls van dieselfde gehalte.

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer