Italiaanse tiener gee nog u2019n groot naam pak
Italiaanse tiener gee nog u2019n groot naam pak

Italiaanse tiener gee nog ’n groot naam pak

Tennis
Die Italiaanse tiener Lorenzo Musetti, wat die tenniswêreld vroeër dié week met ’n skokoorwinning oor die driemalige Grand Slam-kampioen Stan Wawrinka geskud het, het Donderdagaand in Rome gewys dit was geen gelukskoot nie.
Musetti (18) het Japan se Kei Nishikori, nes Wawrinka voorheen in die topvyf op die wêreldranglys, in skoon stelle uit die Italiaanse Ope geboender.
Musetti, wat maar slegs in sy derde ATP-wedstryd in aksie was, het Nishikori met 6-3, 6-4 sy tasse laat pak en ’n plek in die vierde ronde bespreek.
Musetti, wat die 249ste plek op die wêreldranglys beklee, kon danksy ’n uitnodiging van die organiseerders aan die kwalifiserende toernooi vir die Italiaanse Ope deelneem, maar nou kan hy amper begin droom van ’n ontmoeting met die wêreld se voorste speler, Novak Djokovic.
Hul paaie kan moontlik in die kwarteindronde kruis as Musetti met sy volgende teenstander, die Duitser Dominik Koepfer, kan afreken.
Nishikori, wat lank buite aksie was weens beserings en ’n paar weke voor die Amerikaanse Ope ook positief vir die coronavirus getoets is, sê hy sal nog ’n hele paar wedstryde nodig hê om weer op dreef te kom. Hy het egter ook lof vir die jong Italiaanse sensasie gehad.
“Hy’s ’n goeie speler, veral op klei. Ek weet nie hoe hy op hardebane sal vaar nie, maar op klei is sy krag ’n bate. Hy het ’n goeie afslaan en handrughou. Hy het basies alles, wat van hom ’n gevaarlike speler maak.”
– Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer