'Italiaanse dokters': Slenter steek weer kop uit
Skelms het weer met slimpraatjies oor euro's, edelstene en gebreekte bakkies 'n niksvermoedende slagoffer heuning om die mond gesmeer.
Francoise Steynberg
Die sogenaamde Italiaanse dokters het na bewering nóg 'n slagoffer geëis.
'n Walvisbaaise spysenier sê sy het N$11 000 as gevolg van hul skelmstreke verloor.
Me. Christina Badenhorst het verlede Donderdag op haar Facebook-blad “Christina's Catering” haar spyskaart vir middagetebestellings, soos elke week, geplaas. Sy het 'n SMS van ene dr. Giovanni Parlermo van Rome ontvang, wat 'n bestelling van middag- en aandetes vir drie dae vir 'n groep van kwansuis ses Italiaanse dokters by haar bestel het.
Die “ortodontis” het vir haar sy ID- en paspoortnommers en die registrasienommers van twee wit dubbelkajuitbakkies gestuur en laat weet hul begroting is 1 000 euro.
Badenhorst vertel sy spring toe weg en gaan doen inkopies vir die bestanddele en begin verwoed kook aan driegangetes.
“Daarna laat weet hul toergids, ene mnr. Johan van Wyk, hulle is op Brandberg en op pad Walvisbaai toe via Uis en Hentiesbaai.
“Hy sê die dokters wil langs die pad edelgesteentes koop, maar ongelukkig het hulle net euro's, en die edelgesteentesmouse wil dit nie aanvaar nie. Sal ek asseblief vir hulle N$7 000 e-Wallet?”
onraad
Badenhorst het dit wel gedoen.
“Op Uis wou hulle brandstof in die bakkies gooi en kan toe weer nie met euro's betaal nie en ek e-Wallet toe nóg N$4 000,” het sy vertel.
Sy het egter snuf in die neus gekry toe hul bakkies die aand kwansuis by Hentiesbaai gebreek het en hulle nóg N$5 000 vra.
Toe sy weer probeer bel, was die “Italiaanse dokters” skoonveld en die twee selfoonnommers, 081 320 2707 en 081 314 6703, bestaan nie meer nie. Badenhorst het toe Saterdag 'n klag by die Walvisbaaise polisie aanhangig gemaak.
Sy het ook die eienaars van 'n plaaslike hotel gewaarsku waar hulle sou bly. Dít nadat sy blomme vir elke kamer gekoop het.
Badenhorst is dus met N$11 000 ingeloop, asook al die uitgawes vir die etes wat sy voorberei het.
“Ek wil ander Namibiërs waarsku om nie óók vir hierdie slenter te val nie,” het sy verleë gesê.
Republikein het presies 'n jaar gelede berig oor die sogenaamde Italiaanse dokters wat 'n lodgebestuurder in die Kunenestreek, asook vele ander Namibiërs, glo ingeloop het. Die modus operandi van die beweerde skelms bly dieselfde: Daar is 'n bakkie wat breek of nie brandstof het nie, edelstene is betrokke en daar kan nooit met euro's betaal word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie