Isuzu kry nuwe enjins en supercab
ISUZU se nuwe reeks bakkies is binnekort hier en Motortydskrif gaan by wees wanneer die amptelike bekendstelling daarvan in Suidelike Afrika aanstaande week in Namibie plaasvind. Een van die verrassings is dat die nuwe reeks bakkies nou ook soos ander vervaardigers, in 'n verlengde enkelkajuit aan verbruikers beskibaar gestel gaan word. Trouens, daar gaan 'n keuse van nie minder nie as 24 verskillende weergawes van die eenton-bakkie wees. Wat ook nuut is en waaroor daar groot opgewondenheid heers, is die nuutste tegnologie DTEQ- enjins (diesel) van 2.5 en 3.0-liter kapasiteit. General Motors (GM) bied nou altesaam 14 modelle aan wat deur dieselkragbronne aangedryfword. Dit word aangevul met tien modelle wat deur petrolenjins aangedryf sal word.Enjingroottes wissel van 2.0-liter viersilinder, 2.4-liter viersilinder en 'n nuwe 3.6-liter V6-enjin. Altesaam vier spesifikasievlakke gaan ook aan kopers gebied word. Die nuwe 300 D-TEQ dieselenjin van die Isuzu KB ontwikkel maksimum krag van 120 kW by 3 600 o.p.m. en wringkrag van 360 Nm by 1800 - 2800 o.p.m. Die 3.6-liter V6 petrol-enjin is 'n sterke derduiwel met maksimum krag van 157 kW by 5300 o.p.m. en wringkrag van 313 Nm by 2 800 o.p.m. In die volgende uitgawe van Motortydskrif sal volledig oor die nuwe Isuzu-reeks uitgebrei word.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie