Israel fnuik beplande aanval in Jerusalem
Israel fnuik beplande aanval in Jerusalem

Israel fnuik beplande aanval in Jerusalem

'n Beplande aanval op een van die heiligste plekke in Jerusalem is deur Israelse veiligheidsmagte afgeweer.
NAMPA
Israel het gister bekend gemaak dit het twee Israelse Arabiere wat Jerusalem se heilige plek wou aanval, se planne gefnuik.

Die twee mans is die Islamitiese Staat-groep (IS) simpatiek gesind.

Die Shin Bet-veiligheidsdiens het gesê die verdagtes is onderskeidelik 26 en 16 jaar oud. Hulle kom van dieselfde Israelse Arabiese dorp waar drie gewapende mans op 14 Julie twee polisiewagte by die hek na die Al-Aqsa moskee-kompleks doodgeskiet het.

Israel het gereageer deur vir ‘n ruk metaalverklikkers buite die kompleks aan te bring. Dit het Palestyne die harnas ingejaag omdat hulle dit as ‘n verbreking van dekade lange toegangsreëlings beskou het.

Vier Palestyne is in daaropvolgende geweldpleging dood toe hulle met Israeliese veiligheidsmagte slaags geraak het, en drie Israelse burgerlikes is in 'n messtekery dood.

Die twee verdagtes is vandeesmaand in hegtenis geneem en “het IS se moorddadige ideologie ondersteun en terroriste-aanvalle beplan om uitdrukking hieraan te gee”, het Shin Bet gister in ‘n verklaring gesê.

Die mans was in besit van twee pistole. “Hulle het ‘n gewapende aanval op die Tempelberg in Jerusalem beplan, soortgelyk as die aanval wat op 14 Julie plaasgevind het,” lui die verklaring.

Jode vereer dié terrein waar hul antieke tempels gestaan het. Dit is ook waar die Koepel van die Rots geleë is en is ‘n heilige plek vir Moslems.

Pogings deur Jode om daar te gaan aanbid (wat ooreenkomste oor toegang verbreek), is ‘n bron van spanning met Moslems.

Israel het Oos-Jerusalem, insluitende die Ou Stad en heilige kompleks, in die Midde-Oosterse oorlog van 1967 geannekseer, maar dit is nog nooit deur die internasionale gemeenskap erken nie. – Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-06-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer