• Tuisblad
  • Sport
  • Is Spanje en Pole gereed vir Christine en Beatrice?
Is Spanje en Pole gereed vir Christine en Beatrice?
Is Spanje en Pole gereed vir Christine en Beatrice?

Is Spanje en Pole gereed vir Christine en Beatrice?

Die twee tieners kan elkeen die naweek hul meteoriese opgang met prestasies in Europa voortsit.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Beatrice Masilingi en Christine Mboma sal komende naweek individueel aan verskillende byeenkomste in Madrid en Pole deelneem.

Mboma is bestem om Saterdag in Spanje by die Madrid-byeenkoms aan te tree.

Die volgende dag sal Masilingi by die 67ste Janusz Kusocinski Orlen-gedenkbyeenkoms by die Slaski-stadion in Chorzow, Pole, in aksie wees.

Die tienerjarige oefenmaats is besig om in Europa vir die naderende 2021 Olimpiese Spele in Tokio, Japan, voor te berei, met beide wat in die 200 én 400 gekwalifiseer het.

Hoewel Mboma grootliks in die 400 meter spesialiseer en Masilingi in die 200 en 400, kan elkeen moontlik vir beide naellope hul spykerskoene in Pole en Spanje aantrek.

Beide Masilingi en Mboma is tans vry van beserings en op hul heel beste peil.

Mboma het laas Maandagaand in Tsjeggië se hoofstad Praag in die 200 ondanks 'n trae wegspring haar kenmerkende versnelling ten toon gestel om in 'n nuwe Namibiese senior nasionale rekord van 22.67 sekondes te wen, terwyl Masilingi derde geëindig het. Masilingi het in April vanjaar by die nasionale kampioenskap in Windhoek met die wind van agter 'n indrukwekkende 22.38 opgestel.

Mnr. Henk Botha, afrigter van beide, is tans saam met hulle in Rome waar hulle tussen byeenkomste by 'n internasionale oefenkamp slyp. Botha sê die fokus van sy atlete se deelname in Europa is om hulle vir Tokio gereed te kry, eerder as dat hulle noodwendig rekords probeer verbeter.

Die Janusz Kusocinski Orlen-­gedenkbyeenkoms in Pole se byeenkomsrekord in die 200 vir vroue staan op 22.61 s, wat dié land se Ewa Kasprzyk reeds in 1985 opgestel het.

Die byeenkomsrekord in die 400 meter staan reeds 'n allemintige 45 jaar agter die naam van nog 'n landgenoot, Irena Szewinska op 49.75 s (1976). Szewinska was 'n formidabele atleet, 'n vyfmalige Olimpiër en die enigste naelloper in die geskiedenis (man óf vrou) wat wêreldrekordhouer in die 100, 200 en 400 was.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer