Is die nuwe Apple Watch 4 die prys werd?
Is die nuwe Apple Watch 4 die prys werd?

Is die nuwe Apple Watch 4 die prys werd?

Petrus Malherbe – Die wêreld word toenemend in twee kampe verdeel: diegene met ’n iPhone en diegene met ’n Android. Albei platforms bied legio voor- (en na)dele en probeer die ander onttroon as die beste.

So laat ek maar eers ruiterlik erken: Ek is gek na Apple se produkte.

Ek het eers sowat 18 maande gelede my eerste iPhone gekry ná jare van getrou opgradeer na ’n nuwe Sony-toestel.

Nou sal ek nooit weer na ’n Android-foon kan terugkeer nie. My iPhone, AirPods en Apple Watch (series 1), werk soos ’n bom.

Natuurlik was ek kinderlik opgewonde om die splinternuwe (en ongelooflik duur) Apple Watch Series 4 op die proef te stel.

Moet ek koop of nie?

Positiewe eienskappe:

· Helderder skerm;

· Langer batterylewe; en

· Beduidend vinniger.

Negatiewe eienskappe:

· Duur; en

· Onnodig as jy reeds ’n Series 1, 2 of 3 besit

Apple se jongste fiksheidstoestel is ’n fees vir die oog. Danksy byderwetse OLED-tegnologie (dieselfde wat Apple vir sy nuwe iPhones gebruik), skitter die Series 4 se skerm behoorlik.

Dit is ook die eerste keer dat Apple die ontwerp van sy Watch beduidend wysig. Die Series 4 se skerm is meer afgerond, en die bekende wieletjie teen die kant is meer sensitief vir aanraking.

Maar buiten die helderder skerm, is dit die moeite werd om ’n stewige hap uit jou spaargeld aan die Series 4 te bestee?

Dis ietwat van ’n strikvraag. Die Series 4 is beduidend vinniger as my Series 1, maar uiteindelik meet albei toestelle jou hartklop en kry jy ook die jongste bywerking van Apple se bedryfstelsel.

Dit beteken jou Series 1 sal ook die nuwe Walkie Talkie-funksionaliteit hê en jy kan op die horlosie na jou gunsteling-potuitsendings luister.

Dit is alles nuwe funksies wat by die Apple Watch se jongste bedryfstelsel, WatchOS 5, ingesluit is, en nie eksklusief tot die Series 4 is nie.

Dis wel so dat die Series 4 se hartklopmonitor meer akkuraat is, en dat dit ’n bykomende funksie het wat onreëlmatighede in jou hartklop bespeur.

Die Series 1 tot 3 kan dit nie doen nie.

Die Series 4 registreer ook as jy val, en kan selfs die nooddienste kontak (via jou selfoon) indien jy ná die val nie weer opstaan nie.

Dié funksie is wel nie as ’n reël aangeskakel nie, tensy jy ouer as 65 is. As jy graag rondspring in die gimnasium, sal dit sinneloos wees om dit aan te skakel aangesien die horlosie die heeltyd gaan dink jy val.

Aan die positiewe kant is die Series 4 se luidspreker heelwat harder as sy voorgangers s’n, wat beteken jy kan gemakliker deur jou horlosie oproepe ontvang, maar steeds kan jy nie na stemboodskappe op byvoorbeeld WhatsApp luister nie. (Dis wel ’n tekortkoming van die app, nie die horlosie nie.)

Die nuwe slimhorlosie se battery hou ook verstommend lank, selfs al oefen jy ’n paar uur per dag met die hartklopmonitor deurlopend aangeskakel.

Is dit die moeite werd om ’n stewige hap uit jou spaargeld aan die Series 4 te bestee? Dis ietwat van ’n strikvraag.

Agter die skerms spog die Series 4 ook met ’n vinniger verwerker (vandaar die verbeterde spoed) en ’n nuwe W3-skyfie wat beter verbindings met Wifi en Bluetooth bewerkstellig.

Om terug te keer na my oorspronklike vraag: Is die Apple Watch Series 4 sy prys werd?

As jy reeds ’n Apple Watch het, sou ek sê nee. Jou huidige horlosie kan genoeg van dieselfde funksies verrig; Series 4 doen dit net ’n bietjie beter.

Indien jy egter nog nooit ’n Apple Watch besit het nie, kan jy nie ’n fout maak om te belê in die Series 4 nie.

Dit is meer as net ’n fiksheidsbandjie. Nie net motiveer dit jou om meer gesond te wees nie, dit bied jou ook toegang tot ’n magdom funksies met die druk van ’n knoppie.

Hoewel Apple ’n groot bohaai opgeskop het dat die Series 4 ’n elektrokardiogram (EKG) sal kan doen, is dié funksie nog nie beskikbaar nie. Die horlosie het dalk die vermoë om ’n EKG te doen, maar weens regulatoriese haakplekke is dit nog nie aangeskakel nie, en dit kan dalk vir die afsienbare toekoms afgeskakel bly.

Apple moet toestemming van die verskillende mediese reguleerders kry, ook in Suid-Afrika, alvorens dit geaktiveer kan word.

Desondanks is daar genoeg ander funksies in die Series 4 ingebou wat sy stywe prys regverdig as jy nog nooit die genot gehad het om ’n Apple Watch te besit nie.

As jy egter reeds ’n Series 1, 2 of 3 het, spaar eerder jou geld vir die Series 5 wat seker weer asems sal wegslaan.

Die Apple Watch Series 4 kos tussen R8 000 en R8 500 en is reeds by iStores landwyd beskikbaar. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer