Irannese skreeu u2018Dood aan Amerikau2019
Irannese skreeu u2018Dood aan Amerikau2019

Irannese skreeu ‘Dood aan Amerika’

Duisende Irannese het Sondag saamgetrek vir die herdenking van die beslaglegging van die Amerikaanse ambassade tydens die Islamitiese revolusie in 1979 en die naderende heroplegging van sanksies op Iran se oliesektor.

Die saamtrekkers het gedreunsing “dood aan Amerika”.

Studente wat die staatsgeorganiseerde saamtrek bygewoon het, het die Amerikaanse vlag, ’n afbeelding van Uncle Sam en foto’s van pres. Donald Trump buite die ambassade gebrand, berig Reuters.

Die saamtrek is regstreeks op staatstelevisie uitgesaai.

Studente het op 4 November 1979 die ambassade bestorm kort ná die val van die sjah, wat deur Amerika ondersteun is. 52 Amerikaners is 444 dae as gyselaar aangehou en die twee lande is sedertdien vyande.

Die staatsmedia het berig miljoene mense het vir die saamtrekke in dorpe en stede opgedaag en trou gesweer aan die geestelike establishment en die opperleier ajatolla Ali Khamenei. Reuters kan nie die getal onafhanklik bevestig nie.

Saamtrekke word elke jaar gehou op die herdenking van die ambassade-oorname, maar die vyandigheid is vanjaar sterker as gewoonlik weens pres. Donald Trump van Amerika se besluit in Mei om die land te onttrek aan die 2015-kernkragooreenkoms met Iran en opnuut sanksies teen die land in te stel.

OLIE-SANKSIES

Trump meen dié internasionale ooreenkoms is swak en bevoordeel Iran. Die ander ondertekenaars – Brittanje, Frankryk, Duitsland, Rusland en China – bly verbind tot die ooreenkoms.

Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het Sondag in ’n onderhoud met Fox News Sunday gesê die sanksies wat Maandag in werking tree, “is die strengste wat tot dusver teen die Islamitiese Republiek van Iran ingestel is”.

Pompeo sê die olie-sanksies gaan gepaard met finansiële sanksies teen “meer as 600 individue en maatskappye in Iran”.

Die Irannese weermag sê hy gaan Maandag twee dae van lugverdedigingsoefeninge afskop en het Irannese verseker dat hy enige bedreigings kan neutraliseer, berig die staatsnuusagentskap Irna.

“Ons kan ons mense verseker dat die vyand nie sy dreigemente teen ons land kan uitvoer nie,” het Habibollah Sayjari, die koördineringsbeampte, aan Irna gesê. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-09-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer