• Tuisblad
  • Sport
  • IOK hou 'noodkonferensie' per telefoon oor Tokio 2020
IOK hou 'noodkonferensie' per telefoon oor Tokio 2020
IOK hou 'noodkonferensie' per telefoon oor Tokio 2020

IOK hou 'noodkonferensie' per telefoon oor Tokio 2020

Olimpiese Spele
Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) gaan glo môre 'n nood-telefoonkonferensie met sy lede-organisasies hou om oor die Olimpiese Spele te beraadslaag.

'n Bron naby aan die IOK sê Thomas Bach, die president, sal internasionale federasies, nasionale Olimpiese komitees en sportlui “inlig oor die situasie”, berig Sport24.

Die Spele is veronderstel om oor minder as vyf maande in Tokio te begin, maar die Covid-19-pandemie het wêreldsport in 'n chaos gedompel.

Die IOK sal praat oor aksies wat nodig is om op die koronavirus-krisis te reageer. Verteenwoordigers van federasies sal kans kry om vrae te vra.



'HOU AAN OEFEN'

Volgens 'n woordvoerder is die IOK voortdurend in gesprek met sy Olimpiese vennote en hulle word gereeld oor die situasie op die hoogte gehou.

Terwyl talle sportbyeenkomste afgestel of uitgestel word, het Shinzo Abe, die Japanse premier, Vrydag gesê Japan sál die Spele in Julie en Augustus aanbied.

Bach het Donderdag gesê sy sportliggaam volg die riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor die moontlike uitstel van die Spele.

Hy het toegegee die kansellering van kwalifiserende byeenkomste weens die pandemie skep “ernstige probleme”.

Dié kwessie sal môre bespreek word.

Bach het begin vandeesmaand gesê die IOK sal “buigsaam” wees rakende kwalifikasie vir die Spele.

Hy het gesê sportlui moet voortgaan met hul voorbereiding.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer