Investec, RMB belu00ea groot in Botswana
Investec, RMB belu00ea groot in Botswana

Investec, RMB belê groot in Botswana

Investec en RMB Ventures het pas ’n groot belang bekom in Kamoso, ’n firma wat verbruikersgoedere, drank, ysterware en gesondheidsprodukte in veral Botswana vervaardig en versprei.

Kamoso bestaan uit tien maatskappye wat onder meer die supermarkgroep Choppies – wat ’n paar jaar gelede ook op die JSE genoteer het – van produkte voorsien. Choppies het ook takke in Zimbabwe, Suid-Afrika en Zambië.

Investec en RMB Ventures is deel van ’n konsortium wat die verkryging – na raming die grootste private-ekwiteitsbelegging nóg in Botswana – gedoen het. Die transaksie is na verneem word nagenoeg US$45 miljoen werd.

Kamoso bedryf onder meer Liquorama, die grootste drankwinkel in Botswana, en Builders Mart, ’n kettinggroep van ysterwarewinkels. Daarby vervaardig en versprei hy ’n verskeidenheid van verbruikersgoedere, alles van bottelwater en meel tot farmaseutiese produkte.

Kamoso is in 2015 gevestig as ’n belegging deur ’n New Yorkse beleggingsfirma, Development Capital Partners, en Standard Chartered Private Equity. Albei dié firmas het nou hul belang verkoop.

Derrick Soanes, Kamoso se uitvoerende hoof, verwelkom die groep se nuwe aandeelhouers in ’n verklaring en sê: “Ons het groot planne vir streeksuitbreiding, en die span en ek is opgewonde om die maatskappy saam met sulke sterk en gerespekteerde finansiële vennote uit te bou.”

Peter Baird, hoof van African Private Equity by Investec Asset Management, sê Kamoso het ’n sterk onderneming gebou met die fokus op waarde vir geld en die bank wil ’n “streekkampioen” help uitbou.

Andrew Aitken, mede- uitvoerende hoof van RMB Ventures, sê: “Kamoso vertoon baie van die elemente van ’n baie suksesvolle belegging: ’n passievolle en toegewyde bestuurspan, die beste produkte op die mark, en diep en langdurige kliënteverhoudinge.”

Dit is RMB Ventures se eerste belegging in Botswana. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer