Invalshoek - Skoonlief en die Ondier
Invalshoek - Skoonlief en die Ondier

Invalshoek - Skoonlief en die Ondier

Rudi Koekemoer
Die afgelope paar maande is verskeie skoonheidskompetisies wêreldwyd afgehandel, wat die Mej. Tiener Namibië-titel ingesluit het. Die sprankelende persoonlikhede wek emosies van vreugde en skep utopiese persepsies.
Bemarkingstrategieë fokus dikwels op die algemeen aanvaarbare kriteria vir “skoonheid” om produkte, dienste en selfs idees te bemark. "Mooi" mense word in advertensies gebruik om verbruikers se gedrag te probeer beïnvloed.
Die mens is reeds vanaf die vroegste tye gefassineer met skoonheid. Die vraag is of skoonheid sukses beïnvloed.
'SKOONHEID' EN SUKSES
Die sielkundige Edward Thorndike het navorsing oor persepsies, gebaseer op fisieke eienskappe, gedoen en in 1920 sy aanvanklike bevindinge bekend gemaak in die navorsingsartikel "A Constant Error in Psychological Ratings". In die artikel het die begrippe stralekranseffek (“the halo effect”) en die doringeffek (“the thorn effect”) ontstaan.
Thorndike wou vasstel of mense met gemiddelde potensiaal meer positief gesien en ervaar word gebaseer op die evalueerder se persepsies oor die persoon. 'n Positiewe gevoel oor 'n ander persoon sou hiervolgens ook 'n positiewe impak op alle ander kwaliteite hê en veroorsaak dat die persoon in totaliteit meer positief ervaar word as wat dit veronderstel is om te wees.
Meer onlangse studies het byvoorbeeld bevind dat mooier vrouens, tydens werksonderhoude wat deur mans gelei is, onbewustelik beter beoordeel is as vrouens wat nie aan hierdie “skoonheidskwaliteite” voldoen nie. Al beskik twee vroue oor presies dieselfde vermoëns, het mooier vroue konstant beter punte ontvang, ongeag die feit dat alle paneellede dieselfde werksrelevante kriteria ontvang het.
Dit geld ook wanneer vroue mans moet evalueer. Vroue is minder geneig om deur die stralekranseffek beïnvloed te word, maar dit speel steeds 'n rol.
Fisieke eienskappe soos oog- en haarkleur, ouderdom, gewig, lengte, kleredrag, stemtoon en verskeie ander aspekte het 'n invloed op die evalueerder se persepsie. Dit is bevind dat fisieke eienskappe ook persepsies oor persoonlikheid, leierskap en karakter beïnvloed. Langer mans met meer spiermassa is byvoorbeeld as potensieël beter leiers gesien.
DIE SAKEWÊRELD
Die doringeffek gebeur alles op 'n psigologiese vlak en word nie noodwendig doelbewus toegepas nie. Ons evalueer ander mense deur die lens van ons eie persepsies – ongeag of dit gebaseer is op rasionele kriteria.
Moderne navorsing het bevind hierdie verskynsel is ook van toepassing op besighede en handelsmerke. Daarom gebruik bemarkingsmaatskappye van die beginsels om verbruikers se persepsies oor 'n maatskappy te vorm.
Positiewe konsepte soos beste werkgewer, mees winsgewende, innoverende of betroubare besigheid, sal volgens dié beginsel verbruikers se belangstelling prikkel en hulle na die besigheid aantrek. Die teenoorgestelde is ook waar. Indien ek 'n negatiewe persepsie of emosie oor 'n persoon vorm, sal ek die individu holisties negatief evalueer. Dit is die doringeffek.
Dink byvoorbeeld aan die nuut verkose president van die VSA, Donald Trump.
Die mens is inherent 'n emosionele wese en vorm dus persepsies wat nie noodwendig op objektiewe, rasionele kriteria gegrond is nie. Dit is moeilik om persepsies te verander sodra dit eers gevorm is.
WEES WAAKSAAM
Skoonheid het wel 'n impak op ons samelewing en beïnvloed gedrag oor die algemeen.
Dit is hoekom hierdie verskynsels onder die aandag van studente in die mens- en bestuurswetenskappe gebring word. Om bewustheid te ontwikkel om die potensiële risiko's hieraan verbonde teen te staan.
Daar is nie 'n direkte verhouding tussen skoonheid, of algemene fisieke eienskappe, en kognitiewe vermoëns, vaardigheid, potensiaal en prestasie nie, alhoewel baie van ons besluite wel deur "skoonheid" beïnvloed word.
Baie besighede se prestasieprobleme is dikwels juis gesetel in hierdie onbewustelike, subjektiewe evalueringskriteria.
As emosionele wese, sal die mens waarskynlik nooit ten volle objektief kan wees nie.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer