Invalshoek - Resonansie
Invalshoek - Resonansie

Invalshoek - Resonansie

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - Siviele ingenieurs, met ‘n span werkers, het in 1938 die Tacoma Narrows-brug, wat deur Leon Moisseiff ontwerp is, in die staat Washington begin bou teen ‘n koste van ses miljoen dollar (een miljard dollar vandag).

Almal was opgewonde, want dit sou in daardie tydvak die derde langste kabelhangbrug naas die Golden Gate-brug en die George Washington-brug wees, met ‘n lengte van 1 810 meter, ‘n buitengewone smal wydte van 12 meter en 'n hoogte van 59,4 meter.

Die ingenieurs het voorsien hierdie brug sou baie min verkeer dra en het van die geleentheid gebruik gemaak om nuwe, innoverende ingenieurstegnieke toe te pas tydens die bouproses. Hulle het wegbeweeg van tradisionele metodes.

Die opwinding was groot toe die brug amptelik op 1 Julie 1940 geopen is. Mense het egter verbysterd gestaan toe die brug slegs vier maande later, op 7 November 1940 om 11:00, in duie gestort het. Dit word steeds in verskeie vaktydskrifte as een van die grootste ingenieursrampe bestempel.

Natuurlik is daar ondersoek ingestel. Die speurtog is gelei deur Theodore von Kármán, ‘n wêreldberoemde aerodinamika-spesialis van sy tyd. Hy het tot die gevolgtrekking gekom dat natuurlike elemente resonansie veroorsaak het wat tot die ineenstorting van die brug gelei het tydens ‘n windspoed van 68 kilometer per uur.

Ek onthou nog die konsep van resonansie uit my fisika-klasse in matriek, maar wetenskaplike definisies en analise is nie die doel van hierdie betoog nie.

Wat egter interessant is, is dat werkers reeds in 1939 opgemerk het dat die brug vertikaal ossilleer sodra die wind begin waai. Hulle het die brug die bynaam “Galloping Gertie” gegee.

Moisseiff het eers nadat die werkers die bewegings begin sien het, erken dat hy soortgelyke bewegings opgemerk het ‘n paar jaar tevore by twee van sy ander brûe, die Deer Island-brug en die Bronx-Whitestone-brug, maar dat dit nie só erg soos by dié brug was nie. Hy wou juis daardie probleme probeer aanspreek met die nuwe brug se ontwerp en konstruksietegnieke.

Verskeie kundiges se hulp is ingeroep om aanpassings aan die brug se ontwerp te maak om dit te probeer versterk, maar dit het nie die gewenste impak gehad nie. Nietemin, ten spyte van al hierdie risiko’s, is die brug steeds geopen vir gebruik. Gelukkig is niemand beseer toe die brug in duie gestort het nie.

Daar is belangrike lesse ook vir ons as Namibiërs in hierdie multimiljoendollar flater.

Dit is belangrik om deurwinterde en beproefde metodes nie te misken deur dit te probeer vervang met innoverende idees wat nie beproef is nie. Dit is verder belangrik om altyd vooraf eerlik en deursigtig te wees alvorens miljoene dollar se belastinggeld aangewend word vir iets wat nie gaan werk nie en dat daar reeds voorkennis hiervan by gewone werkers is. Dit is belangrik om te luister na Jan en San Alleman en nie blindelings voort te gaan met nuwe idees wat groot risiko’s inhou nie.

Dit beteken nie omdat ek ‘n ingenieur is dat ek nie foute kan maak nie en nie na die praktiese raad van gewone mense hoef te luister nie. Die groot toets vir enige visie, soos om ‘n nuwe brug met nuwe tegnieke te bou, is óf dit die winde en storms sal kan deurstaan.

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer