Invalshoek - Nuwe gewoontes vir nuwe tye
Twee weke gelede, voor ons hoktyd van 21 begin het, het ons in 'n bekende kettingwinkel ingestap en twee Chinese burgers gesien wat met mediese maskers oor hulle monde inkopies doen.
Die meeste mense het na hulle gestaar en sommige het 'n jakkalsdraai om hulle geloop.
Ek en my vrou het na mekaar gekyk en spontaan teruggedink aan ons besoek aan Hongkong in 2014.
Hongkong is een van die mees digbevolkte stede in die wêreld met 7 496 981 inwoners (7 140 mense per vierkante kilometer). Ons het al baie gereis, maar nog nooit soveel mense gesien nie. Ek kan nie dink aan 'n oomblik waarin daar nie derduisende mense rondbeweeg het nie.
Die meeste mense het met mediese maskers inkopies gedoen. Dit was normaal.
Mense het verskeie soorte maskers gedra. Sommige was kleurvol en ander in modieuse ontwerpe. Dit het vir ons amper soos 'n modegier gelyk. Sommige maskers het by mense se kleredrag gepas.
Niemand het dit as vreemd ervaar nie. Ons is ingelig dit is verpligtend om 'n masker te dra as jy verkoue of enige siekte onder lede het. Dit is 'n voorkomende maatreël sodat jy nie ander mense aansteek nie, asook om jouself teen moontlike infeksies te beskerm. Die ander rede is om mense teen lugbesoedeling te beskerm. Die gebruik geld reeds dekades in Hongkong en ander digbevolkte stede in die Ooste.
Niemand het mekaar omhels nie en daar was byna nooit persoonlike kontak in die openbaar nie. Mense het uit eerbied vir mekaar gebuig.
Dit is daarom vir Chinese en ander Oosterlinge nie vreemd om 'n masker in die openbaar te dra of om sosiale afstand toe te pas nie. Die, waarskynlik verantwoordelike gedrag, is vir ons vreemd omdat ons nie daaraan gewoond is nie. Ons vorm daarom negatiewe persepsies hieroor.
Die mense verstaan dalk ook nie altyd ons optrede nie. Almal kyk na die wêreld deur 'n bepaalde maatskaplike en kulturele bril.
Dit was 'n uitdaging om sedert 28 Maart aan ingeperkte daaglikse roetines gewoond te raak en nuwe sosiale gewoontes aan te leer midde die Covid-19 pandemie. Ek moes konsentreer om mense byvoorbeeld nie met die hand te groet nie, maar eerder beleefd te glimlag. Om 'n entjie verder weg te staan wanneer ek met iemand gesels, om gereeld hande te was, om op te let waaraan ek vat en om tuis te bly. Mettertyd het dit meer natuurlik geword om só op te tree.
Daar is verskeie boeke oor kondisionering geskryf om nuwe gewoontes te vestig, soos Charles Duhigg se The Power of Habit en BJ Fogg se Tiny Habits. Gedrag kan verander en nuwe gewoontes vasgelê word deur die brein te kondisioneer om nuwe roetines aan te leer. Aanvanklik is dit moeilik en dit verg baie konsentrasie, maar oor tyd word nuwe gewoontes outomaties uitgevoer en nuwe gedragspatrone vasgelê.
Ons sal nuwe gedragspatrone vorm tydens hoktyd. Die nuwe “aanvaarbare” optrede strek almal tot voordeel en daarom moet ons dit nie na afloop van die tydelike krisisperiode verleer nie.
Die sentrale oorweging is om vir ander om te gee, om mekaar op nuwe maniere tydens beproewing te vertroos, om 'n helpende hand uit te reik en om mekaar se kulturele gewoontes te respekteer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie