Invalshoek - Nasionale prioriteite
Rudi Koekemoer - Een van my vriende het die afgelope week ‘n nare ondervinding beleef weens uiters swak openbare mediese dienste.
Hierdie is die soort stories wat mens in die koerante lees en as ongelooflik afmaak, soos ‘n onlangse geval waar ‘n vrou in ‘n hospitaal gesterf het terwyl sy om hulp in ‘n lang ry gewag het. Daar is talle sulke verhale, maar jy word eers wakker geskud wanneer dit met iemand na aan jou gebeur.
Jaco het Donderdagoggend ‘n pyn in sy maag ontwikkel en hom na die dokter gehaas, wat bevestig het sy blindederm moes dringend verwyder word. Soos baie Namibiërs is hy ‘n jong entrepreneur wat nog nie ‘n mediese fonds kan bekostig nie.
Twee-uur die middag het hy by die Katutura Staatshospitaal aangekom, die doktersverslae aan personeel gegee en die dringendheid van die saak beklemtoon. Nietemin moes hy maar sy beurt afwag. Eers tien ure later, om middernag, het hy ‘n hospitaalbed gekry.
Die pyn was toe al byna ondraaglik. Hulle het vir hom pynpille gegee, maar verder was daar geen kommunikasie wat verder sou gebeur nie. Al wat hy geweet het, is dat hy in ‘n groot penarie sou wees indien sy blindederm bars.
Daar was sprake dat die dokter op pad was en dat hy om twee-uur die oggend in die teater ingestoot sou word. Om ‘n lang storie kort te maak: die operasie het eers twee-uur Vrydagmiddag (vier en twintig uur later) plaasgevind.
Hy was buitengewoon lank in die teater vir ‘n blindedermoperasie en ons het sommer geweet iets skort. Teen sesuur Vrydagmiddag is bevestig sy blindederm het wel gebars weens die lang wag en dat die gifstowwe in sy buik versprei het. Hy moes vir drie dae vir verdere observasie en behandeling in die hospitaal bly weens die erns van die saak.
Indien die hospitaal ‘n proses gehad het waarmee noodgevalle geidentifiseer word en daardie pasiënte onmiddellik gehelp word, sou die koste vir die staatskas ook minder gewees het. Jaco was veronderstel om net ‘n dag in die hospitaal te wees, indien die dienste doeltreffend bestuur was. Dit het tot vier dae gerek weens komplikasies. Buiten dat dit sy lewe kon kos, moes die staat drie keer meer aan behandeling bestee.
Hierdie is vir my ‘n goeie voorbeeld van vermorsing van waardevolle hulpbronne omdat mense nie die impak van goeie diens besef nie. Die verskoning wat deur die hospitaalpersoneel aangebied is, was dat hulle nie genoeg personeel op diens het nie en dat hulle ‘n tekort aan beddens en nodige hulpbronne beleef.
Dit bring my by nasionale prioriteite. By elke beplanningsessie of konferensie word die doelwitte van Visie 2030, die Harambee-plan, die Vyfde Nasionale Ontwikkelingsplan, Afrika Agenda 2063 en die Verenigde Nasies se ontwikkelingsdoelwitte soos rympies opgesê. Streel dit maar net die ego’s van politieke leiers?
Al hierdie planne verwys na die belangrikheid van werkskepping, uitwissing van armoede, verbetering van opvoeding en onderwys, verbetering van gesondheid, verbetering van basiese dienste, ens. Dit is wel só dat onderwys die grootste deel van ons land se begroting ontvang (N$13,7 miljard; 21 persent), maar wat my dwars in die krop steek, is dat die weermag (N$5,8 miljard) asook veiligheid en sekuriteit (N$5,5 miljard) gesamentlik N$11,3 miljard (17 persent) van die totale begroting ontvang, terwyl gesondheid maar N$6,8 miljard (10 persent) ontvang.
Hoekom spandeer ‘n land wat vrede ervaar ‘n noemenswaardige persentasie van hulle begroting op militêre aangeleenthede terwyl die werklike prioriteitareas aan die agterspeen suig? Het dit nie tyd geword dat ons nasionale begroting belyn word met nasionale beplanning nie en dat ministeries aanspreeklik gehou word vir kwaliteit diens en die aanwending van ons kosbare, skaars hulpbronne?
Die vinnigste wat ons gesondheidsdienste, soos vele ander dienste, gaan verbeter, is as die president en ministers, weens hulle posisies, die voorbeeld stel en net staatshospitale gebruik. Dit sal vir my ware leierskap wees. Hulle moet hul vertroue bewys deur self hulle lewens in die hande van die staat se mediese personeel te plaas.
Indien hulle nie bereid is om dit te doen nie, is die vraag: Hoekom nie? Dan weet hulle mos dat die dienste nie op standaard is nie?
Hoekom moet dit dan goed genoeg vir Jan en San Alleman wees?

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie