Invalshoek - Namibiese wortels
Rudi Koekemoer - Ek het die ander dag besoek ontvang van ‘n boesemvriend wat twintig jaar gelede eers na die Verenigde Koninkryk en daarna na Australië emigreer het op soek na werksgeleenthede en nuwe avonture.
Hy is destyds weg uit Namibië as alleenlopende avonturier en kom kuier toe saam met sy pragtige Australiese vrou en kind, want hy het die begeerte gehad om sy geboorteland aan hulle bekend te stel.
Ons het ‘n nostalgiese vlug deur ons jeugjare geneem wat in Swakopmund afgespeel het. Die herinneringe het gewissel van staaltjies in die houtwerkklas waar Plank van Zyl ons gereeld die roede nie gespaar het nie tot by ons rugbyspeeldae in die vroeë negentigs toe ons saam vir die Dolphins Rugbyklub in de skrum gesak het. Ons was ‘n span om mee rekening te hou met gedugte spelers soos Riaan Jantjies, Tommy Forbes, Henry Bruwer, Henry Feris, Marco Swarts, Langes van Zyl, Rudi Diergaardt en Heinrich de Waal (Sop-Sop). Morris Burns was daardie tyd voorsitter van die klub en het diep spore in die geskiedenis van die klub gelaat.
Ons het gesels oor die kameraadskap en verhoudinge wat in daardie jare gebou is en wat tot vandag toe nog die toets van tyd deurstaan.
Ons het gesels oor my eerste kreefduik-ervaring by Tiger Reef, nog voor die huidige gewilde strandkafee wat tans daar gevestig is.
Dan was daar natuurlik die visvangstories. . .
My vriend het vir ‘n oomblik stil geword en voor hom uitgestaar. Ek kon sien hy dink diep en het hom ‘n oomblik van stilte gegun.
Ek het maar voortgegaan om in my prominente r-beklemtoonde Engels aan sy vrou te verduidelik waaroor ons gesels het. Sy het probeer verstaan, maar ek kon sien dat sy beleefd geluister het, maar nie die kultuurkonteks gesnap het nie.
Ons gesprek het verder in die rigting van hulle lewenstandaard gestuur om die verskille tussen die twee lande te probeer pyl. Sy het te kenne gegee dat hulle ‘n middel-inkomste salaris verdien, maar dat hulle verder kom met hulle geld as ‘n Namibiër met ‘n ekwivalente salaris. Hulle betaal ook maar hoë belasting maar die regering gee baie van die belastinggeld terug aan hulle landsburgers in die vorm van bystand vir opvoeding (op alle vlakke), uitstekende mediese sorg, maatskaplike ondersteuningsnetwerke en verskeie ander voordele.
Dan is hulle geldeenheid baie sterk en die nasionale fiskale dissipline is van hoogstaande gehalte. Korrupsie en algemene misdaad is byna afwesig.
Dit is die primêre redes, vanuit ‘n rasionele oogpunt, hoekom hulle hul tuiste in Australië gemaak het, want dit verseker ook ‘n beter toekoms vir hulle kinders en nageslagte. Natuurlik was sy verras met ons groot huise en het my vertel spasie is werklik ‘n luukse in Australië.
Na 'n paar minute van stilte het my vriend weer by die gesprek aangesluit en die opmerking gemaak: “Ek het ‘n baie goeie lewe in Australië met baie geleenthede, maar my wortels is in Namibië geplant. Ek mis die oop grasvlaktes, ‘n kameeldoringvuur wat knetter onder ‘n helder sterrehemel, ‘n skaaptjoppie uit die Suide, skilpadjies, bobotie met geelrys, beesstertpotjiekos, Ouma se beskuit, koeksisters, melktert, Mrs Balls se blatjang, malvapoeding, kerrievetkoek, biltong en droëwors. Ek mis die vars reuk van die Namibiese grond en savanna na ‘n reënbui uitgesak het.”
Dit het my opnuut laat besef hoe diep ‘n mens se geboorteland en kultuur in sy hart gewortel is.
A, ons het baie uitdagings, maar indien ons lief is vir ons land en ons kinders se toekoms op die hart dra, sal ons saamwerk, ongeag van al die dinge wat ons verskillend maak van mekaar, om oplossings te vind. Ons moet saam in die skrum sak en vorentoe druk.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie