Invalshoek - Leierskap rig gedrag
Rudi Koekemoer - Dit gons die afgelope tyd in die media oor wêreldleiers wat oënskynlik nie die huidige Covid-19-pandemie ernstig opneem nie, want hulle weier om maskers in die publiek te dra of om die relevante distansiëringsriglyne na te kom.
Daar word partytjies gehou met groot hoeveelhede mense teenwoordig terwyl die res van die land volgens streng voorskrifte moet optree.
Daar blyk dubbele standaarde te wees. Politieke leierskap dink dat hulle om die een of ander rede vrygestel is van die regulasies of dalk is hulle arrogant deur te dink dat hulle immuun is teen die virus. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die president van Brazilië, Jair Bolsonaro, wat deur ‘n hofbeslissing beopdrag is om ‘n masker in die openbaar te dra omdat hy ‘n grondwetlike verantwoordelikheid teenoor die mense het wat hy moet lei en beskerm.
‘n Basiese beginsel is dat leiers die waardes van ‘n land (of organisasie) moet versinnebeeld en onberispelik moet optree, want dit het ‘n direkte impak op die gedragskultuur wat gevorm word. Indien leiers nie deur hulle voorbeeld die pas aangee nie, sal dit die boodskap oordra dat waardes, wette en regulasies buigsaam is.
Leiers wat die toonbeeld van gedissiplineerde etiese en morele optrede is, skep die verwagting dat dit in die samelewing weerspieël moet word. Die kultuur wat in die samelewing gevestig word, is die direkte gevolg van leierskap.
‘n Goeie voorbeeld was wyle Nelson Mandela se omhelsing van versoening om die pas aan te gee in die vestiging van ‘n inklusiewe demokratiese samelewing. Sy optrede was geanker in etiese en morele beginsels wat duidelik in sy optrede na vore gekom het. Dit het verseker dat Suid-Afrika nie in wanorde, vervolgings en wraak verval het nie. Die wêreld het verstom gestaan weens sy wysheid en boodskap van vrede.
Vergelyk dit met sy opvolgers en die progressiewe erosie van morele en etiese beginsels tot die huidige situasie waarin wanorde en korrupsie seëvier.
‘n Nasionale kultuur wel kan verander, afhangende van die leiers wat die septer swaai.
Die boodskappe wat leiers aan volgelinge verkondig, vorm bepaalde denke en gedragspatrone wat mettertyd deel van kultuur word.
Kom ons neem die voorbeeld van ‘n land wat ‘n bakhandstaan-kultuur (“entitlement culture”) het. Hierdie tipe kultuur, waarin mense voel dit is hulle reg om alles verniet te kry sonder om daarvoor te werk, het nie oornag ontstaan nie. Dit vorm oor jare.
Politieke partye is skuldig hieraan, want hulle het 30 jaar gelede beloftes aan stemgeregtigdes gemaak dat behuising, grond, voertuie en werk hulle beloning sal wees indien hulle die kruisie op die “regte” plek trek. Natuurlik het dit verwagtinge geskep.
Dink net hoe anders dinge kon gewees het as leiers drie dekades gelede vir blinkoog volgelinge gesê het: “Ons sal moet hande vat om ‘n nuwe land te skep. Dit gaan bloedsweet verg, maar elkeen sal moet inspring en in die sweet van sy aangesig sy brood verdien. Ons kan nie vir mense verniet geld, grond, huise en dies meer gee nie, want dit is duur en iemand moet daarvoor betaal.
“Elke landsburger moet die kennis en vaardighede aanleer om ‘n werk te bekom en ‘n produktiewe bydrae te lewer tot die toekoms van ons land. Ons land kan net welvarend wees as elkeen van ons ons plig besef en skouer aan die wiel sit. Ons kan help om die omstandighede te skep waarin elke landsburger sy drome in vrede kan najaag, maar niemand kan jou drome bewaarheid behalwe jy self nie.
“Ons sal die beste opvoedingstelsel vestig, want ons land se toekoms is in die hande van ons kinders. Die saadjies wat ons vandag saai, sal eendag groot bome wees waaronder toekomstige generasies kan sit om die skaduwee te geniet.”
Die hoeksteen van ‘n suksesvolle samelewing is mense wat hand aan die ploeg slaan en die waarde van iets verstaan waarvoor hulle self hard gewerk en betaal het. Dit is die boodskap wat leierskap moet oordra en self die voorbeeld hiervan wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie