Invalshoek - Kampvuur se wysheid
Rudi Koekemoer - Die kameeldoringkole spoeg vuurtonge die maanlose uitspansel in terwyl die koue ‘n wurggreep uitvoer op die manne wat om die kampvuur sit ek gesels.
Oudergewoonte luister ek meer as wat ek praat, want die verskillende uitgangspunte oor ons land se uitdagings fassineer my. Die kennis en wysheid van die manne, wat in verskillende sektore en industrieë werksaam is, is indrukwekkend.
Menings word gestaaf deur statistiek wat aangehaal word terwyl ander weer inligting deel weens eerstehandse ervaring vanuit die binnekringe. Dit is opvallend hoeveel briljante idees die naglug ingestuur word met die hoop dat dit op klankgolwe gedra sal word tot in die raadskamers van besluitnemers.
Die liefde en omgee vir ons land is opvallend, met die meeste manne wat hul laaste asem sal gee om ‘n toekoms vir die nageslagte te verseker.
Dit is belangrik om die regte vrae te stel, want dit lei tot die regte gesprekke, gevolgtrekkings en moontlike oplossings. Prokureurs en advokate sal hiermee kan identifiseer.
Gewoonlik is ope vrae baie doeltreffend om waardevolle inligting te bekom om die opvolgvrae in die regte rigting te stuur. Somtyds stimuleer retoriese vrae nuwe denkpatrone, want die antwoord word geïmpliseer.
Die kwessies wat die manne stel en bespreek sluit in hoekom Visie 2030 op nywerheidsontwikkeling gebaseer is terwyl ons land se DNS gegrond is op landbou, waarin die grootste persentasie van die arbeidsmag tans werksaam is. Moet ons nie juis ons land se langtermyn visie baseer op voedselsekuriteit nie, want ons het passie vir, en ‘n leeftyd se kennis en vaardighede in boerdery en landbou?
Hoekom staan die staat nie konstruksietenders aan Namibiërs toe nie, al is dit dalk bietjie duurder, want dit behoort ons ekonomie ‘n hupstoot te gee en werkloosheid gedeeltelik aan te spreek? Hoekom word die meeste groot projekte aan buitelanders toegeken terwyl die vaardighede plaaslik beskikbaar is? Hoekom word miljarde se tenders aan Oosterlinge toegeken terwyl dit algemene kennis is dat hulle meestal toerusting vanaf hulle eie lande invoer en die geld word landuit geneem, met die gevolg dat die plaaslike ekonomie verskraal.
Hoekom leen ons miljarde in die buiteland terwyl ons weet Namibië kan dalk strategiese bates verloor indien ons nie hierdie lenings kan terugbetaal nie?
Hoekom word kommersiële plase wat winsgewend is en bydrae tot die staatskas vervreem? Mettertyd word dit ‘n las weens die stelselmatige verval van infrastruktuur.
Hoekom het Namibië nie reeds meer ontsoutingsaanlegte nie, gegewe die feit dat ons ‘n uiters droë land is en watersekuriteit hierdeur kan verseker, en dalk selfs water kan uitvoer na suidelike Afrika?
Hoekom voer ons steeds die meeste van ons krag in terwyl ons oor ‘n onuitputbare bron van potensiële sonkrag beskik? Hoekom bou ons nie ‘n kernkragaanleg nie, want dit sal toekomstige kragsekuriteit verseker asook die land in staat stel om waardevolle krag uit te voer na ander lande en daarmee die staatskas kan aanvul?
Hoekom spandeer ons miljarde aan die konstruksie van nuwe paaie en geboue terwyl die huidige infrastruktuur nie onderhou word nie?
Daar is twee dinge wat ek uit hierdie kampvuurgesprekke leer. Die eerste is dat oplossing vir ons land se probleme reeds bekend is, maar dit word nie ontgin nie.
My voorstel is dat spesiale oplossingskomitees in elke streek op die been gebring moet word om praktiese idees te genereer wat na die Nasionale Beplanningskommissie deurgegee kan word. Hierdie komitees moet nie gebaseer wees op politieke affiliasie nie, maar moet bestaan uit mense van alle herkomste, sektore en industrieë. Selfs die gewone man op straat moet idees op die tafel kan sit.
Die tweede leerpunt is dat daar helder sterre sigbaar is in ‘n donker, maanlose uitspansel - wat hoop en die moontlikheid van nuwe ontdekkings simboliseer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie