Invalshoek - Gee my krag
Invalshoek - Gee my krag

Invalshoek - Gee my krag

Rudi Koekemoer
Rudi Koekemoer - 'n Paar jaar gelede het die land kragtekorte ervaar wat ons gereeld in die donker laat rondtas het op soek na flitse om kerse en paraffienlanterns aan te steek.

Juis een aand toe ek besig was om ‘n verslag op my skootrekenaar te voltooi, gaan die krag weer af. Gelukkig was die battery vol gelaai en kon ek vir twee ure aanhou werk met ‘n flikkerende kers op die lessenaar. Groot was my frustrasie toe ek nie die verslag kon voltooi voordat die rekenaarskerm donker geraak het nie.

Dit het my gemotiveer om navorsing te doen oor sonkragtegnologie en ons het besluit om 18 sonkragpanele op die huis se dak te laat monteer. Deur die dag trek ons direk krag van die panele en snags kan ons nog vyf tot ses ure se krag uit die batterye put.

Ons kragrekening het met meer as die helfte verminder, maar die stelsel was relatief duur en ons sal eers ná vyf jaar gelyk breek. Ons het alles opgeweeg, maar toegang tot krag was belangriker as kostes. Ons was nog nie vir ‘n oomblik spyt nie, want sedertdien was daar baie kragonderbrekings, maar ons kon sorgeloos met al ons aktiwiteite voortgaan . Soms het ons nie eens besef die krag was af nie.

Die Internasionale Energie-agentskap (IEA) definieer kragsekuriteit as die voorsiening van energie teen bekostigbare pryse en onder omgewingsvriendelike toestande. Die aanvanklike definisie het nie die omgewing in ag geneem nie, maar weens die eksponensiële toename in lugbesoedeling ná die industriële revolusie en die impak op die klimaat, moet alternatiewe gesoek word om mettertyd die drie hoof tradisionele energiebronne – steenkool, olie en gas – te vervang.

Hierdie drie nie-hernubare energiebronne voorsien tans 80,9% van die wêreld se energie en die IEA voorspel dit sal teen 2030 steeds die primêre kragbronne wees. Afhanklikheid van die bronne is problematies omdat dit ‘n impak op die ekonomie, omgewing en algemene lewenskostes het. Om nie eens te praat van geo-politieke konflik oor energiebronne nie. . .

Dit was juis die olieprys, wat in 2008 ‘n prys van US$147 per vat behaal het, wat die wêreld in ekonomiese resessie gedompel het. Die olieprys het ‘n impak op brandstofpryse gehad, wat ‘n impak op vervoer- en vervaardigingskoste gehad het wat weer op hul beurt voedsel- en algemene produkte se prys die hoogte laat inskiet het.

Byna elke faset van ons lewens is afhanklik van energie. Tradisionele energiebronne is verantwoordelik vir meer as 60 persent van die wêreld se groenhuisgasse en die ander realiteit is dat nie-hernubare bronne uitgeput sal word.

Die wêreld is by ‘n kruispad en gevolglik soek die meeste lande na alternatiewe energiebronne. Meer as 60% van Frankryk se energiebehoeftes word deur kernkrag voorsien terwyl China ook op kernkrag steun. China, die grootste ekonomie in die wêreld, het reeds 37 kernkragaanlegte en nog 19 is in aanbou. Duitsland het egter sy fokus na hernubare energie soos wind- en sonkrag verskuif.

Indië is die wêreld se derde grootste produseerder van elektrisiteit en dra ongeveer 4,8% van wêreldproduksie by. Histories was Indië berug vir lugbesoedeling (wat steeds die geval is), maar die land het radikale besluite geneem om na hernubare bronne oor te skakel. Indië is die wêreld se sewende grootste produseerder van hidro-energie en wek tans 60 GW se elektrisiteit op uit hernubare bronne, met ‘n verdere 115 GW se sonkragprojekte wat beplan word teen 2020 teen ‘n totale koste van US$350 miljoen. Die grootste sonkragprojekte in die wêreld is tans in Indië gevestig.

Hernubare energieprojekte is definitief 'n oplossing vir Namibië, gegewe al ons wind en son, maar dit is tans baie duur vir middel- en laer inkomste groepe. Al word dit op nasionale skaal geïmplementeer, sal die koste van die verbruikers verhaal moet word.

Ek is oortuig indien verskillende belangegroepe kan saamspan om bevondsingsmoontlikhede en/of modelle te oorweeg, dit ‘n stap in die regte rigting sal wees vir die “voorsiening van energie teen bekostigbare pryse en onder omgewingsvriendelike toestande.”

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A