Inperking was bittersoet vir jong Blitsbok

Sewesrugby
Marnus Kok – Hoewel die Blitsbok Muller du Plessis erken 2020 se lang inper­king weens die Covid-19-pandemie was 'n frustrasie, was die pluspunt dat dit hom meer tyd saam met sy familie gegun het.

Nou lek Du Plessis (21) egter sy lippe af vir die twee toernooie wat vandeesmaand in Madrid, Spanje, beslis word. Die toernooie sal as voorbereiding dien vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Tokio.

“Dit is baie lekker om terug te wees by die sewes. Die ses maande wat ons af gehad het weens die coronavirus, was glad nie lekker nie,” sê Du Plessis.

“Ek dink dit het ook 'n negatiewe impak op ons gehad. Dit is omdat ons ons kruin (van die Blitsbokke se spelpeil) bereik het in Los Angeles en Vancouver (vroeg in 2020). Ons het baie uitgesien na die toernooie wat voorgelê het.

“Maar daar was ook positiewe aspekte aan die ses maande, soos dat ons 'n bietjie tyd saam met ons families kon deurbring. Dit is iets wat ons nie altyd voor tyd kry nie. Dit was ook 'n geleentheid om aan 'n paar individuele goedjies aandag te gee. Ek kon herstel van 'n besering en 'n paar van my vaardighede 'n bietjie verbeter,” sê hy.

In sewesrugby is Du Plessis 'n veelsydige agterspeler wat as senter of vleuel diens doen. Sedert hy in 2018 sy debuut vir die Blitsbokke gemaak het, het hy die nasionale span in 14 toernooie van Wêreldrugby se sewesreeks verteenwoordig.



DIE PAD NA TOKIO

'n Kykie na dié oudleerling van Paarl Gimnasium se statistieke vertel jou dat hy weet waar die doellyn is. Jy druk immers nie 42 drieë in 63 wedstryde as jy 'n padkaart na die doellyn nodig het nie.

Van 'n pad gepraat. Du Plessis het in sy kort loopbaan tot op hede ook baadjies van die Suid-Afrikaanse Skolespan (2016 en 2017) en die Junior Springbokke (2018) wat in sy klerekas hang.

Hy is gretig om die nasionale sewesspan later vanjaar in die Olimpiese Spele te verteenwoordig. Maar hy besef om oorweeg te word, is 'n pad wat gevolg moet word, met Madrid 'n eksamen wat langs die pad eers geslaag moet word.

“Hierdie wedstryde (in Spanje) is alles deel van die voorbereiding vir Tokio, so dit is baie belangrik,” sê Du Plessis.

“Almal wil in daardie span (vir die Spele) wees, maar eerstens moet ons doen wat die beste vir die span is. Dit is om so hard as moontlik te oefen en goed voor te berei vir daardie wedstryde en ons deel by te dra.”– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer