Ink-skurke glo opnuut doenig
Ink-skurke glo opnuut doenig

Ink-skurke glo opnuut doenig

Ondernemings word aangeraai om bedag te wees.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Plaaslike besighede val opnuut ten prooi van ‘n vermeende groep Suid-Afrikaanse boewe wat aanvoer hulle is die enigste verskaffers van beperkte voorraad van ‘n spesifieke inkhandelsmerk vir Toshiba.

Die vermeende swendelaars beweer ander handelaars se voorraad is op.

In die jongste voorval is ‘n plaaslike maatskappy, wie se naam weerhou word, glo deur ‘n man gekontak en ingelig dat hul gereelde verskaffer geen voorraad meer het nie. Hy het daarop aangedring die voorraad moet by die vermeende swendelonderneming gekoop word.

Volgens die bron het die man Afrikaans gepraat en die oproep is oënskynlik uit Namibië gemaak.

Luidens e-poskorrespondensie wat op die oproep gevolg het en deur ene Samantha Bredenkamp gestuur is, is Toshiba in Suid-Afrika se inkvoorraad uitgeput en die volgende besending sal glo eers teen Junie of Julie sy opwagting maak.

Daar is voorts beweer die Toshiba-bestuur het die magtiging gegee om ‘n bestelling te plaas en ses inkhouers teen N$3 995 elk by die vermeende bedrieërs te koop.

Wat veral eienaardig is, sê Maxes Office se Frank Snyman, is die binnekennis oor verskaffers waaroor die verneemde skelms na bewering beskik.

“Dié is ‘n slenter,” waarsku Snyman en raai kliënte aan om direk met hulle in verbinding te tree sodra hulle verdagte e-posse ontvang.

‘n Defy-agent, Atlantic Distributors, het glo reeds in 2014 deurgeloop en ondanks waarskuwings ‘n bestelling geplaas.

André van Zyl van Atlantic Distributors sê hulle het betaal vir die ink, waarop steeds gewag word.

MEESTERS OP HUL GEBIED

Sean Siqueira van Copy Type Electronics Toshiba in Suid-Afrika wat ink aan Maxes lewer, sê die vermeende swendelaars kom al jare weg met die skema, sonder enige gevolge.

Volgens hom is die vermeende skelms deskundiges op hul gebied. “Hierdie is regte boewe. Die probleem is dat ons niks daaromtrent kan doen nie, behalwe as een van ons klante ons laat weet dat hulle ingeloop is.”

Wat die oënskynlik gelekte inligting betref, sê Siqueira die vermeende swendelaars maak van ‘n groot gemorsposlys gebruik of dit word uit eie geledere gelek. Hy het maatskappye aangeraai om seker te maak vertroulike aanlyn inligting word voldoende beskerm.

Omdat Toshiba in Suid-Afrika oor geen bewyse van werklike transaksies beskik nie, is dit moeilik om strafregtelike sake aanhangig te maak, sê hy. Toshiba het reeds hul klante oor die skema gewaarsku.

“Ons kan soveel tyd en energie op ‘n ondersoeke bestee, maar as ‘n transaksie nie plaasvind nie, sien ek geen rede hoekom ons ons energie so moet vermors nie,” sê Siqueria.

RASSEKAART UITGEDEEL

In reaksie op navrae aan ‘n e-posadres wat die vermeende swendelaars gebruik, sê die persoon wat antwoord: “Die enigste werklike boewe in Afrika is alle wit mense wat steeds die meeste rykdom besit.

“Hierdie is die regte boewe wat Afrika nie met rus kon laat nie, maar in plaas daarvan hierheen gekom, grond gesteel en hulle (Afrikane?) teen mekaar gedraai het.”

Volgens die persoon wat op die navraag gereageer het, het wit mense, veral in suidelike Afrika, wette gemaak om swartes as slawe te gebruik en hulle te dwing om “by die reëls te hou”.

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer