Inhaal van agterstand moet Saterdag begin
Inhaal van agterstand moet Saterdag begin

Inhaal van agterstand moet Saterdag begin

Rugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Baie sterk belangstelling heers onder jong rugbyspelers om komende Saterdag by die nasionale proewe hul kleim vir insluiting in die Namibiese o.20-span af te steek.

Rugby Afrika se Barthes o.20-toernooi word van 25 Maart tot 4 April in Nairobi, Kenia aangebied en Namibië het 'n appeltjie te skil met die Oos-Afrikane.

Senegal en Madagaskar is die ander twee deelnemende lande aan die o.20-toernooi, maar die verwagting is dat Namibië en Kenia mekaar opnuut in die eindstryd behoort te ontmoet.

Met hul vorige ontmoeting in 2019 in die einste Nairobi het Kenia in die laaste sekondes 'n dramatiese oorwinning met 21-18 beklink om Namibië se greep op die kontinentale baasskap los te wring.

Dié uitslag het beteken dat Namibië in 2019 vir die eerste keer sedert 2013 nie vir die Wêreldrugby Onder 20 Trofee-toernooi gekwalifiseer het nie en Kenia het hul plek vir die toernooi in Brasilië oorgeneem.

Om sake sedertdien verder deurmekaar te krap, kon net enkele vriendskaplike senior skolewedstryde verlede jaar in Namibië weens die pandemie gespeel word.

Die nasionale o.20-afrigter, Jood Opperman, saam met Jacky Husselmann as spanbestuurder en Sergio de la Harpe (krag en kondisionering) se taak om die pyplyn van rugbytalent te herstel, begin dus op 'n skoon bladsy met proewe waar elkeen kan wys waartoe hy in staat is.

Vir komende naweek was skole, klubs en ouers genooi om spelers te benoem met die vaardigheid en vasberade ingesteldheid om vir Namibië te speel.

Sedert vroeg in Februarie kon spelers twee maal per dag, drie keer per week oefensessies bywoon – 'n geleentheid waarvan gemiddeld 40 spelers en soms tot bykans 50 gebruik gemaak het.



REëLINGS

Die aanduidinge is dat meer as 90 spelers Vrydagoggend vir deelname aan die proewe Saterdagoggend sal registreer.

Namibiese burgers wat in die kalenderjare 2001 en 2002 gebore is, kom vir die o.20-span in aanmerking.

Volgens die Namibië Rugby-unie sal die eerste twee proefspanne Saterdag om 08:00 in die Hage Geingob-stadion uitdraf, gevolg deur nog vier groepe in twee wedstryde om 09:50 en 11:30.

Twee spanne sal dan saamgestel word vir die finale proefwedstryd om 14:40. Alle wedstryde word in helftes van 20 minute aan 'n kant gespeel, met tien minute rustyd.

Ingevolge die regulasies teen Covid-19 sal spelers wat hul wed­stryde voltooi het, die stadion moet verlaat voordat die volgende twee spanne kan inkom. Ongelukkig sal geen toeskouers toegelaat mag word nie.

Kommentaar

Republikein 2026-06-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer