Ingevoerde GM-mielies ‘nie goeie nuus vir SA’
Vida Booysen - Suid-Afrika het in die huidige seisoen reeds 57 811 ton mielies na lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) uitgevoer, waar plaaslike oeste nie in die behoefte kan voorsien nie.
Die permitte wat toegestaan is om geneties gemodifiseerde (GM-) mielies uit Amerika in te voer, “is nie goeie nuus vir plaaslike graanboere nie”.
Die ingevoerde mielies bevorder nie plaaslike produsente se mededingendheid as dieselfde GM-mielies met dieselfde eienskappe nie vir plaaslike produsente ook beskikbaar is nie, sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van die bedryfsliggaam Graan SA.
“Sulke uitsonderings behoort net gemaak te word in tye wanneer voedselsekerheid in gevaar is,” sê hy.
Hy wys daarop dat buitensporige invoer van mielies plaaslike pryse onder druk plaas en nadelig vir die winsgewendheid van plaaslike produsente is wat nog van die droogte herstel.
Nóg ’n probleem is dat daar tans geen meganisme is om invoer- en uitvoerkontrakte te rapporteer nie, sê De Villiers.
“Net die handelaar wat daardie graan aangekoop het, weet wanneer die skepe in Durban se hawe aankom en hoe groot die kontrak is wat hy gesluit het.”
Plaaslike produsente kry dié inligting eers wanneer die graan plaaslik in die hawe aankom en deur die Suid-Afrikaanse Graan-inligtingsdiens gerapporteer word.
“Maar vir die weke of maande wat die handelaar alleen die inligting het, kan hy sekere posisies vooraf op die mark inneem wat hom bevoordeel,” sê De Villiers.
Hy sê dit veroorsaak groot onsekerheid en laat markspelers toe om die mark in ’n spesifieke rigting te dwing.
“Graan SA voel sterk dat ’n vryemarkstelsel net optimaal kan funksioneer as die markinligting te alle tye vir alle rolspelers beskikbaar is.”
Hy wys daarop dat baie strenger vereistes oor openbaarmaking in byvoorbeeld die Amerikaanse mark geld.
“Indien ’n kontrak gesluit word, moet dit binne 24 uur gerapporteer word en enige veranderings moet ook binne 24 uur bekend gemaak word,” sê hy.
Suid-Afrika het onlangs vir die eerste keer permitte uitgereik om 1,3 miljoen ton GM-mielies van die VSA in te voer. Volgens Hampie Lourens, besturende direkteur van South African Bulk Terminals, wat graaninvoer by die Durbanse hawe hanteer, het geen van die Amerikaanse mielies tot dusver aangeland nie, berig Bloomberg.
Volgens die departement van landbou, bosbou en visserye is 15 permitte uitgereik vir die invoer van GM-mielies uit Amerika. Die kontrakte is vir sowel geel- as witmielies uitgereik.
Hoewel Suid-Afrika sy eie GM-mielies verbou, is Amerikaanse GM-graan tot dusver nie as voedsel in die land toegelaat nie. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie