Ingenieurswese is nie sy ding nie, maar motorkarre wel

Die 23-jarige Stefan Schrader van Okahandja is nou een man wat nie op sy baadjie getakseer moet word nie. Op sy jeugdige ouderdom is hy die eienaar van sy eie suksesvolle motorhandelsaak en het hy pas ook met ''n voertuigverhuringsonderneming begin. Ons het by hom gaan inloer en uitgevra oor...
Gerine Hoff
Hoewel die stadsraad se geldkas dit nie toelaat om boere by vanjaar se tentoonstelling wat voor die deur lê, te huisves nie, sal die verrig­tinge soos beplan, plaasvind. Dit is die mening van die toerisme- en bemar­kingsbeampte van die Okahandja munisipaliteit, me. Maggy Sheya.
Die Okahandja ekspo sal vanaf 8 tot 11 Mei by die Okahandja stadion plaasvind.
Vanjaar se tema is die bevordering van vriend­skap en besigheidbetrekkinge.
Hoewel die deure Donderdag, 8 Mei, vir die publiek sal open, is die amptelike opening van die sesde jaarlikse Okahandja toerisme- en sake-ekspo vir Vrydag, 9 Mei, geskeduleer.
Hoewel die uitvoerende hoof van die Okahandja munisipaliteit, mnr. Frans Enkali, beplan het om omliggende boere te betrek deur aan hulle ’n geleentheid te gee om hul vee uit te stal, laat die finansiële toestand van die raad hom nie toe om sy droom te bewaarheid nie.
Volgens Sheya kan die geld tot die raad se be­skikking nie die kostes verbonde aan die aandag wat vee tydens die tentoonstelling nodig het, dek nie.
“Die doel van die skou is om Okahandja as ’n toerisme- en sakehawe bekend te stel,” het Sheya gesê.
Volgens haar skep dit ’n netwerkgeleentheid vir plaaslike, streek- en nasionale sakelui wat op die tuindorp sake wil doen. Dit word ook gebruik om beleggings wat die raad as nodig vir die dorp ag, daarheen aan te trek, voer sy aan.
Sheya meen dat die ekspo met die verloop van jare baie gegroei en verbeter het.
In 2009 wat die eerste jaar was wat dit aangebied is, was daar slegs 60 uitstralers en meer as 3 000 besoekers. Verlede jaar was daar 37 meer uitstallers as 2009 en meer as 9 000 besoekers.
Gedurende ’n gala-dinee wat verlede maand gehou is om geld vir die ekspo in te samel, is sowat N$64 000 belowe. Volgens die burgemeester van Okahan­dja me. Valerie Aron, sal dit gebruik word om vanjaar meer ruimte vir klein en medium ondernemings by die toerisme-ekspo te skep.
“Baie sektore soos die vervaardiging- en kunsbedryf, inligting- en kommunikasietegnologie, voertuighandelaars, versekeringsmaatskappye sowel as klein en medium ondernemings wat die dorp se werkskeppings basis uitmaak, het belangstelling getoon,” sê die bemarkingsbeampte.
Stigterspresident Sam Nujoma wat dié dinee bygewoon en ook N$5 000 belowe het, is van mening dat die ekspo ’n reuse-sukses sal wees en die verwagtinge van die sakegemeenskap en ander belanghebbendes sal bevredig. Alle stalletjies is reeds bespreek vir vanjaar het Sheya gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-08-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer