Inflasie-skok vir SA verbruikers
Inflasie-skok vir SA verbruikers

Inflasie-skok vir SA verbruikers

Inflasie was in September weer hoër as 5% - en vleispryse styg steeds al hoe skerper.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het gister bekend gemaak die inflasiekoers vir September was 5,1%. Die koers kon in Julie (4,6%) vir die eerste keer in byna twee jaar tot onder 5% daal en het dit in Augustus (4,8%) volgehou, maar duurder brandstof en behuising het die indeks weer tot bo 5% opgedruk.

Kosprysinflasie het verlangsaam tot 5,4%. (Dit beteken nie pryse het gedaal nie, maar dat die trollie kos en nie-alkoholiese drank wat SSA meet, 5,7% meer gekos het as in September 2016.)

Vleispryse het egter wéér skerper gestyg. Vleis was in September gemiddeld 15,6% duurder as 'n jaar gelede.

In Julie was kos 6,8% duurder as 'n jaar gelede en vleis 14,4%. In ­Augustus was kosprysinflasie 5,7%, maar vleis­prysinflasie 15%, die hoogste in ses jaar.

Aan die positiewe kant was brood en graanprodukte 2,8% goedkoper as 'n jaar gelede. Olies en vette (-3,3%) en vrugte (-4,4%) is ook goedkoper as 'n jaar gelede.

Kerninflasie, 'n belangrike syfer wat die Reserwebank dophou, het konstant gebly op 4,6%. Kern­inflasie sluit die wisselvalligste elemente uit, naamlik kos en nie-alkoholiese drank, krag en petrol.

Pensioentrekkers ervaar inflasie van meer as die landswye ­gemiddelde, van 5,4%.

Wes-Kapenaars ervaar inflasie van 1,2 persentasiepunte méér as die landswye gemiddelde. Op provinsiale vlak wissel inflasie van 3,8% in Mpumalanga tot 6,3% in die Wes-Kaap.

Tussen Julie en Augustus het ­inflasie met 0,5% gestyg, wat 'n betreklik hoë maandstyging is.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer