Inenting dryf nie toename in sterftes
Inenting dryf nie toename in sterftes

Inenting dryf nie toename in sterftes

In Namibië, soos elders in die wêreld, staaf data nie waninligting dat inenting vir die groot aantal nuwe sterftes in die land verantwoordelik is nie.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Net ses mense wat teen Covid-19 ingeënt was, is oorlede sedert die derde golf Namibië in Mei getref het.

Almal het ander siektes onder lede gehad. Hul ouderdomme het van 50 tot 78 jaar gewissel.

Indien alle sterftes sedert die uitbreking van die pandemie in Namibië as maatstaf gebruik word, was net 0,5% ingeënt.

Dié statistiek is vervat in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se daaglikse Covid-19-aankondigings.

Die ministerie dui sedert 27 Mei aan of mense wat gesterf het, ingeënt was of nie. Dit word nie deurgaans vermeld of diegene wat gesterf het en ingeënt was, net ‘n eerste of ook ‘n tweede dosis entstof ontvang het en of dit Sinopharm of AstraZeneca was nie.

Altesaam 332 mense is van 27 Mei tot Vrydag dood. Sowat 60% of 200 van hulle was glad nie ingeënt nie.

In bykans 38% van sterfgevalle kon die ministerie nog nie die inentingstatus van oorledenes bevestig nie.

Die immuniseringsveldtog teen Covid-19 het op 19 Maart begin. Die totale sterftesyfter sedertdien staan op 655. Dit is 56% van alle Covid-19- en verwante sterftes.

Uit persone wat sedert 19 Maart dood is, was 1,8% ingeënt, maar na alle waarskynlikheid net met een dosis. Die syfer neem ook nie die totale sterftesyfer in ag nie.

Data van die Amerikaanse Sentrum vir die Beheer en Voorkoming van Siektes (CDC) toon net 0,0017% van mense sterf wat teen Covid-19 ingeënt is.

Teen Vrydag het 104 103 Namibiërs reeds hul eerste spuit gekry, bykans 35% van hulle in Khomas en 11% in Erongo. Altesaam 19 851 mense het hul tweede dosis ontvang, sowat 29% van hulle in Khomas en bykans 9% in Erongo.

Net meer as 1,3% van die teikengroep van sowat 1,5 miljoen mense in Namibië was teen Saterdag ten volle teen Covid-19 ingeënt. Kudde-immuniteit vereis inentingskoerse van tussen 60% en 80% van die bevolking.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) sterf drie keer meer mense direk of indirek weens die Covid-19-pandemie as wat amptelike syfers weerspieël.

Sterftes in Junie staan tans op 259 in Namibië – Saterdag se data is eers laat gister verwag – en het Donderdag die totaal vir Mei (233) verbygesteek. Gemiddeld sterf 14 mense nou daagliks teenoor Mei se daaglikse gemiddeld van agt.

Gemeet oor sewe dae, het die daaglikse sterftesyfer teen Vrydag op 16 gestaan teenoor 19 die afgelope Dinsdag.

Verlede Maandag is ‘n rekord van 23 sterftes aan Covid-19 toegeskryf. Op 9, 10 en 15 Junie het elke dag 20 mense gesterf.

Tydens die kruin van die eerste golf van die pandemie het gemiddeld drie mense per dag gesterf en ses op die dodelikste dae.

Toe die tweede golf sy piek bereik het, het die syfers op ses sterftes per dag en ‘n maksimum van nege op ‘n enkele dag gestaan.

Die huidige situasie is dus twee tot drie keer erger as in Desember en Januarie.

Kommentaar

Republikein 2025-09-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer