Indongo droom steeds van die topvlak
Indongo droom steeds van die topvlak

Indongo droom steeds van die topvlak

Boks
NAMPA
Julius Indongo (Blue Machine), voormalige wêreldbokskampioen, sal op 30 Julie in die hoofgeveg van die derde “Rumble in Dar”-bokstoernooi in Tanzanië teen die gasheerland se Hassan Mwakinyo baklei.

Die twee sal in die superweltergewigklas om die Afrika-boksunie (ABU) se vakante titel veg.

Die 38-jarige Indongo het aan die nuusagentskap Nampa gesê die geveg is vir hom 'n stap in die rigting van sy voortdurende ambisie om weer 'n wêreldtitelgeveg te beklink.

“Op die oomblik doen ek fiksheidsoefening – meestal padwerk omdat ek weens die Covid-19-beperkings nie die slaansakke mag gebruik of teen skermmaats kan boks nie. Ek wag vir die Namibiese Sportkommissie om my rigting te gee oor die pad vorentoe as dit by skermoefening kom,” het Indongo gesê.

Hy reken daar is nog genoeg tyd vir hom om deeglik vir die geveg voor te berei.

Indongo het tussen 2016 en 2017 die wêreldtitels van die Wêreldboksvereniging (WBA), die Internasionale Boksfederasie (IBF) en die ­Internasionale Boksorganisasie (IBO) gehou.

Die lenige Namibiese hotklou het 'n beroepsrekord van 23 oorwinnings (12 uitklophoue) en drie nederlae.

Hy het laas in November 2020 geveg, toe hy in Hollywood binne twee rondes deur Kazakstan se onoorwonne vooruitsig Daniyar Yeleussinov uitgeslaan is.

Hy het drie van sy laaste vier gevegte verloor, sedert hy tot in 2017 drie uit die vier betekenisvolle titels in die weltergewigklas verenig het.

Mwakinyo het van sy 21 gevegte 19 gewen (13 uitklophoue) en twee verloor, maar sedert sy laaste nederlaag in Desember 2017 het hy reeds 'n string van nege opeenvolgende oorwinnings opgebou.

Die Tanzaniër het onder meer in Augustus 2017 sy enigste vorige ontmoeting teen 'n Namibiër gewen, toe hy Anthony Jarmann in Gaborone in die tiende ronde uitgeslaan het. – Bygewerk van Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-09-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer