Indiese Oseaan weer koel
Indiese Oseaan weer koel

Indiese Oseaan weer koel

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Toestande in beide die Stille en Indiese Oseaan wat ’n negatiewe uitwerking op Namibië se reënvooruitsigte mag hê, is eindelik neutraal.

Die Indiese Oseaan-dipool (IOD) het vroeg in Januarie amptelik weer na neutrale vlakke teruggekeur, ná dit sy sterkste positiewe fase in onlangse geskiedenis ervaar het.

Die Australiese Buro vir Meteorologie het in hul uitkykstatus van 21 Januarie gesê die sterk positiewe Indiese Oseaan-dipool (IOD) sal na verwagting neutraal tydens die komende maande bly en gevolglik sal die invloed hiervan op die klimaat verswak.

’n Positiewe IOD ontwikkel wanneert koeler water in die noordweste van Australië voorkom en warmer water in die rigting van die sentrale en Suid-Afrikaanse kuslyn te vinde is.

Dit is baie negatief vir reënval in die Suid-Afrikaanse subkontinent omdat vog van Sentraal-Afrika af na die Indiese Oseaan “uitvloei” en nie suid beweeg nie.

Daar is tans ook nie vooruitsigte dat ’n El Niño of La Niña binnekort sal ontwikkel nie.

Die Amerikaanse Weervoorspellingsentrum en die Internasionale Navorsingsinstituut vir Klimaat en Samelewing het in hul jongste uitkykstatus gesê die kans dat neutrale Enso-toestande tydens die komende herfsseisoen sal voortduur, staan op 60%.

Daar is ook ’n 50%-kans dat dít tydens die winter van 2020 sal voortduur.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer