In sakeredding, maar SAL nog betyds
In sakeredding, maar SAL nog betyds

In sakeredding, maar SAL nog betyds

Elvira Wood - Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se geldsake mag dalk só beroerd wees dat hy in sakeredding geplaas is, maar dit keer nie dat sy vlugte betyds opstyg en land nie.

Die SAL bevind hom in die vierde plek op Cirium se ranglys vir nasio­nale lugdienste in Afrika en die ­Midde-Ooste. Cirium is 'n internasionale navorsingsmaatskappy wat op die reisbedryf fokus.

Volgens Cirium is 85,69% van die SAL se vlugte op al sy roetes betyds.

Cirium ag vlugte betyds wat binne 15 minute van die geskeduleerde tye opstyg of land.

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof van die SAL, sê in 'n verklaring die lugdiens is baie trots op dié prestasie.

Die SAL vlieg in vennootskap met SA Express, Airlink en Mango na 57 eindpunte binne Suid-Afrika en die res van die Afrika en na agt inter­nasionale eindpunte.

Die SAL word egter glad nie genoem op 'n soortgelyke ranglys wat deur OAG saamgestel word nie.

Volgens hulle is Safair die lugdiens in Afrika en die Midde-Ooste wat die meeste betyds is.

Volgens dié navorser is 94,4% van Safair se vlugte betyds. Dit is selfs beter as Etihad (83,40%), Qatar Airways (80,32%) en Emirates (79,47%).

Wanneer Safair se persentasie met alle ander lugdienste wêreldwyd vergelyk word, bevind hy hom in die algehele tweede plek. Dit is net Garuda Indonesia (95,01%) wie se vlugte meer betyds is as syne.

Lughawens

OAG stel ook jaarliks 'n indeks saam van lughawens waar vlugte betyds is.

Suid-Afrika se drie grootste lug­hawens het betreklik goed op dié ranglyste gevaar.

Die King Shaka-lughawe (83,59%) in Durban is negende wanneer dit by klein lughawens kom.

'n Klein lughawe is een wat tussen 2,5 miljoen en vyf miljoen passasiers per jaar hanteer. Die Kaapstad Internasionale Lughawe (92,5%) is tweede wanneer dit by mediumgrootte lughawens kom.

'n Mediumgrootte lughawe hanteer tussen vyf miljoen en tien miljoen passasiers per jaar.

Die O.R. Tambo-lughawe (82,01%) is tiende wanneer dit by groot lughawens kom wat tussen tien miljoen en 20 miljoen passasiers per jaar hanteer.

Deon Cloete, waarnemende uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Lughawensmaatskappy (Acsa), sê Dinsdag in 'n verklaring hulle is baie trots op dié prestasie.

Dit volg veral nadat daar onlangs groot ontwrigtings op plaaslike lughawens was. Daar was groot chaos op plaaslike lughawens laat in Oktober toe vier lugdienste van hul vliegtuie moes hok. In Desember het werkers van die SAL ook gestaak.

“Ons is bly dat ons as lughawe­gemeenskappe goeie prestasies kon handhaaf wat betref hoe betyds vlugte is. Ons waardeer die daaglikse pogings van elke persoon wat op ons lughawens werk,” sê Cloete.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer